RHEENENDAL - Groot opwinding het verlede Saterdag onder inwoners in Lapland-informele nedersetting in Rheenendal geheers met die aanbieding van die dorp se eerste kaskarwedrenne.
Die kaskarwedrenne het deel gevorm van die Lapland-Funday wat deur Leon Oelf, gemeenskapswerker en vrywilligers gereël is. Die verrigtinge van die dag het ook wedrenne en 40 m-naellope vir seuns en dogters ingesluit terwyl daar ook 'n stalletjie was waar toeskouers lekkernye kon koop.
Volgens Oelf word hierdie dag aangebied om die area se jeug konstruktief met sinvolle aktiwiteite besig te hou.
"My doel is om hulle te stimuleer omdat kinders maklik vatbaar is vir duiwelsdinge. Selfs as ek waterpype of karre in die area regmaak, dan kom help hulle, en dis dan dat 'n mens sien dat die kinders eintlik baie talentvol is. Hulle moet net konstant besig gehou word," het Oelf verduidelik.Die verrigtinge van die dag het ook wedrenne en 40 m-naellope vir seuns en dogters ingesluit.
Die talent waarna Oelf verwys was duidelik sigbaar by die beoordeling van die jongelinge se vuurwaens. Sommige kaskarre, wat hulle self gebou het, het selfs ratkashefbome gehad met verskillende ontwerpe wat hul kreatiwiteit en vaardigheid ten toon gestel het.
Die dag het 'n groot gevoel van trots en prestasie in die gemeenskap geskep, met kinders wat nie net deelgeneem het nie, maar ook 'n nuwe vlak van selfvertroue aangewakker het.
Die dogters nael vir 'n vale eindstreep toe terwyl die omstanders hulle toejuig.
Oelf het ook aangekondig dat daar in die komende vier maande beplan word om 'n groter en selfs meer omvattende dag te reël.
Met genoegsame borge sal ander plakkerskampe in die dorp by die aksie betrek word, wat die geleentheid sal vergroot en verder die jeug van Rheenendal sal bevoordeel, het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’