Video
ATLETIEK NUUS EN VIDEO - Een van die grootste atletiekbyeenkomste in die Wes- en Oos-Kaap vind Vrydag 20 Oktober en Saterdag 21 Oktober in George en Oudtshoorn plaas. Dit kan 'n aanduiding gee van die toekoms van atletiek in Suid-Afrika.
Verskeie skoolatlete gaan aantree vir die jaarlikse Arrie Nel Kwagga Top-10-byeenkoms. Dit word deur Hoërskool Outeniqua gereël.
In sommige sportkringe word atletiek as 'n aspoestertjie sport gesien en die byeenkoms word beskou as 'n geleentheid vir die sport om tot sy reg te kom.
Dit het reeds die eerste keer in 2019 plaasgevind en het sedertdien aansienlik gegroei. Atlete van altesaam 42 hoërskole en 21 laerskole vanoor die Wes-Kaap en selfs die Oos-Kaap neem vanjaar deel. Na verwagting sal 1 500 atlete oor die twee dae meeding.
Van die laerskoolatlete kom onder meer van George, Hartenbos, Mosselbaai, Swellendam en selfs Betlehem in die Vrystaat.
Uit hoërskool geledere kom atlete van onder meer George, Riversdal, Bredasdorp en selfs Despatch.
Daar word die naweek in baanitems en velditems meegeding. Dit sluit baanitems soos naellope en langafstande en velditems soos hamergooi en paalspring in.
Die byeenkoms sou aanvanklik net op die velde van Kwaggas plaasvind, maar die organiseerders het intussen aanpassings gemaak omdat reën vir Saterdag in George voorspel word. Skole neem as spanne deel, maar deelnemers kan ook individueel deelneem.
Jacques Wolfaardt, die dryfkrag agter die geleentheid, het Maandag gesê as voorsorg is besluit om die Saterdag deel van die byeenkoms na Oudtshoorn te skuif.
Die laerskole deel begin Vrydag op die velde van Kwaggas en hou aan tot 17:00. Die prysuitdeling is om 17:15.
Hamergooi en paalspring vir hoërskool-deelnemers vind ook Vrydag plaas by Kwaggas.
Saterdag verskuif die aksie na die De Jager-sportkompleks in Oudtshoorn. Dit begin om 08:00 en hou aan tot 18:00. Die prysuitdeling is om 18:00.
Wolfaardt het gesê toeskouers is welkom en hulle behoort atletiek van die hoogste gehalte te sien.
Die geleentheid het al deelnemers opgelewer wat wêreldkampioene geword het en internasionaal deelgeneem het. Een van die deelnemers van die verlede wat later haar merk gemaak is Mirè Reinstorf.
VIDEO - Jacques Wolfaardt,organiseerder van die Arrie Nel Kwagga Top 10 atletiek byeenkoms, vertel meer.
Video:Eugene Gunning
Jacques Wolfaardt, die dryfkrag agter die geleentheid, Dinsdag by Kwaggas se sportterrein. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’