Hoewel daar baie mense rondloop wat met 'n voorliefde vir Volkswagen in hul gene gebore is, is die gewilde handelsmerk gebaseer op goeie werkverrigting, lekker gerief en hantering asook 'n lang werklewe.
Dis presies soos verwag sou word van die handelsmerk wat maand ná maand die land se twee topverkopers in verskillende modelle oplewer. Geen verrassing hier nie - ons het na die bekendstelling uitgesien om self die voertuig te bestuur. Maar die eerste lekker verras-sing was sommer met die inklimslag.
Die Polo lyk van buite na 'n lekker ratse motor. Nie te groot nie, maar ook nie te klein nie. Wanneer jy egter tuis agter die stuurwiel sit en begin rondkyk, is dit opmerklik hoeveel groter die nuwe Polo binne is in teenstelling met sy buite-afmetings.
Die nuwe Polo is 3 972 mm lank, 1 682 mm wyd en 1 453 mm hoog. Daar is baie ruimte vir die bestuurder en voorste passasier en die sitplekke bied ferm en gemaklike ondersteuning. Agterste passasiers word ook nie afgeskeep nie en sal gerieflik inpas tensy 'n mens die lynstaan-ouens moet vervoer.
Volkswagen se Polo is een van die gewildste kompakte motors wat intenasionale verkope betref, met byna 14 miljoen eenhede tot nou. Die luikrug word by Volkswagen se fabriek in Uitenhage vervaardig en dit is een van twee aanlegte in die netwerk wat hierdie model bou.
VOORKOMS
Visueel en tegnies spog die nuwe Polo met 'n reeks vernuwings waaronder bestuurshulpstelsels en tegnologie. Die motor het ook die nuwe TSI enjin waarvan ons die outomatiese weergawe bestuur het.
Die effens skerper ontwerp voor en agter is waaraan die motor uitgeken kan word en ons het met die Highline-weergawe gery, wat spog met 16" alllooiwiele. Die chroom-afwerking is netjies en daar is nie té veel bling aan die motor nie, sodat dit ewe tuis sal lyk voor die skool en die fliek!
Die instrumente is duidelik sigbaar en logies gerangskik binne maklike bereik. Die stuurwiel is 'n lekker handpas-grootte met drie verdelings wat onder afgeplat is vir 'n sportiewe voorkoms en bestuursgevoel.
Die afwerking van die instrumentepaneel en die inligtingstelsel is keurig en die materiaal is van goeie gehalte wat terselfdertyd dienlik en gerieflik lyk en voel. Die chroomafwerking binne is ook netjies met 'n goeie balans - nie te veel of te min nie.
BESTUUR 'N SLAG
Een van die ander verrassings wat ons moet meld, is die gerief van die outomatiese ratkas, wat die Polo ook laat voel na 'n veel groter motor. Met die eerste wegtrek was daar 'n effense huiwering, maar dit was die enigste keer.
Daarna was die oorskakeling van die ratte foutloos en byna onmerkbaar - op die hoofpad sowel as die snelweg.
Die enjin is beslis kragtig genoeg vir iemand wat 'n bietjie haastig voel, maar 'n goeie toets van enige motor se gerief is of dit teen 'n laer spoed nog gemaklik bestuur en met die Polo was dit beslis die geval.
Die enjin- en padgeraas was baie min en die goeie vakmanskap van die bougehalte het bygedra tot 'n lekker seepgladde toetsrit.
'n Rit tussen George en Mosselbaai het die motor kans gegee om sy slag te wys op alle oppervlakke en dit het oral gemaklik hanteer met goeie reaksie op bestuurinsette. Die motor het goed gevaar op die snelweg, met skerp draaie en ook op grondpad was dit stewig met volop selfvertroue.
Die nuwe Polo het talle bystandstelsels soos 'n standaard outomatiese remstelsel wat intree wanneer 'n botsing plaasvind om enige verder botsing te vermy, asook baie fasette op die vermaak- en inligtingstelsel wat as MIB (modular infotainment) bekend staan. Die Highline-model het ook Bluetooth-verbinding en ander elektroniese konnektiwiteit.
ENJIN
Die doeltreffende TSI-model wat die Highline aandryf, kry 'n wakker 81kW van die viersilinder-enjin, die jongste Volkswagen-model wat met die klein wenner toegerus word.
Hierdie enjin het 'n gepubliseerde brandstofverbruik van 5,1 liter per 100 km en maksimum-krag is beskikbaar teen 5 000 rpm en 'n maksimum-wringkrag van 175 Nm teen 1 500 en 4 000 rpm. Die gepubliseerde topsnelheid is 196 km en die Polo versnel tot 100 km in 9,3 sekondes.
STANDAARD
Die Polo het ABS-remme, elektroniese remverdeling en hulp met wegtrek teen steiltes. Die standaard-veiligheideienskappe is lugsakke voor met lugsakke vir die kop en keel, hoogteverstelbare lewensgordels en Isofix-verbindingspunt vir 'n kinderstoeltjie agter. Die kopstutte is ook ontwerp om beserings te vermy.
Ekstra's vir gerief is elektriese vensters voor en lugversorging met 'n waarskuwing as ligte nie afgeskakel word nie. Die bestuurder se sitplek is ook hoogteverstelbaar.
Die Polo Highline het soos genoem, groter allooiwiele en 'n mooi swart afwerking by die luginlaatskerm.
BESONDERHEDE
Pryse sluit BTW en uitlaatgas-belasting in en is as volg vir die twee Highline-modelle: 1.2 TSI 81kW Highline - R233 300 en 1.2 TSI 81kW Highline DSG - R247 800.
Ingesluit by die prys van die nuwe Polo is 'n drie-jaar of 45 000 km diensplan, 'n drie-jaar of 120 000 km waarborg en 'n twaalf-jaar teenkorrosiewaarborg.
Diens intervalle is elke 15 000 km.
Die Polo is beskikbaar in swart, helderrooi, blou (nuut), wit, metaalgrys, silwer, donkergrys, blou en dieprooi (nuut) asook swart.
SIEN FOTOGALERY

Die stuurwiel is onder afgeplat vir 'n sportiewe voorkoms en gevoel. Foto: QuickPic
ARTIKEL: ANICA KRUGER, SUID-KAAP MOTORGIDS-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'