Nou sal ek seker baie ongewild wees, maar Harleys laat my dink aan 4x4-kampeerders. ’n Mens kry bikers en dan kry jy die Harley-manne. Bikers kan ek vergelyk met ouens wat in karavane kamp - Harley-manne kan jy vergelyk met 4x4-manne wat op die hoogste piek wil kamp met so ’n effense wolkie rondom hulle.
Dis die manne wat breë bors met hulle Harleys al rasend hulle opwagting maak. Soos Johan van Tonder eendag geskryf het - as jy die Harley se aansitter druk is dit soos ’n draak wat jy in ’n grot wakker maak.
Onstaan van die Harley
Kom ons kyk so ‘n bietjie na die ontstaan van Harley. In 1903 is die wêreldberoemde Harley-Davidson Motor Company in Milwaukee, Wisconsin, gestig. Arthur Davidson was net 20 toe hy en sy vriend William Harley saam begin werk het aan ‘n droom, ‘n klein 116 cc-enjin met vierduim-vliegwiele. Harley het die enjin spesifiek ontwerp om op 'n fietsraam te pas. Hy het die maatskappy saam met sy skoolvriend Arthur Davidson, gestig nadat hul eerste prototipe gebou is.
Die eerste was nie suksesvol nie, aangesien die enjin nie in staat was om die fiets teen gemiddelde bulte aan te dryf nie, dus het hulle gefokus op wat die eerste ware Harley-Davidson sou word: 'n 405 cc-motorfiets wat net ongeveer 13 kilogram geweeg het.
Hierdie model is geadverteer en die twee stigterslede het saam maar net 12 motorfietse gebou, aangesien hul werkswinkel niks meer was as Davidson se ouers se tuinskuur nie! In 1906 het hulle 'n fabriek in die middestad van Milwaukee gebou (wat tot vandag die maatskappy se hoofkwartier is) en voortgegaan om 50 motorfietse in die eerste jaar te produseer. In September 1907 was daar vier lede William Harley, William Davidson, Arthur Davidson en Walter Davidson.
Interessante feite
Die maatskappy het van krag tot krag gegaan. Met die Eerste Wêreldoorlog is bykans die helfte van alle Harleys wat geproduseer is aan die Amerikaanse weermag verkoop. In dieselfde tyd het Harley-Davidson vir Indian verbygesteek wat markaandeel betref. Hulle het dit selfs reggekry om die Groot Depressie te oorleef in teenstelling met Indian, en gaan voort om 'n verskeidenheid modelle te produseer vir sowel stoere ondersteuners as nuwe motorfietsryers om te geniet.
Teen 1945 het Harley 60 000 WLA-modelle vervaardig vir militêre gebruik. Na die Tweede Wêreldoorlog begin Harley dadelik motorfietse vir burgerlikes vervaardig.
Teen 1947 word die eerste swart Harley Davidson leerbaadjie verkoop.
In die 1960’s neem Harley Davidson ernstig deel aan wedrenne en teen 1965 is dit nie meer ’n privaat maatskappy nie. Harley smelt in 1969 saam met AMF (American Machine and Foundry Company).
Teen 1977 word die FXS Low Rider bekend gestel met sy besondere ‘drag style handle bars’.
Senior bestuurslede besluit om in 1981 die maatskappy van AMF te koop en Harley is weer in privaat besit. Verskeie modelle word vervaardig met vernuwende tegnologie soos 5-spoed transmissie wat in 1991 gebruik word en teen 1995 word die eerste brandstofinspuiting modelle vervaardig.
Street Glider
Vandag kry jy byvoorbeeld die Street Glider wat deel is van Harley-Davidson se Touring-familie. Met hom pak jy die lang pad aan en wanneer jy by ‘n stil dorpie soos Willowmore met jou Harley intrek vir brandstof is daar altyd koppe wat draai. Hierdie brullende grotmonster maak seker daar word van hom kennis geneem. Die Street Glider het ’n groot lugverkoelde 1690cc-V2-silinder-dubbelnokas-enjin wat deur ‘n sesspoedratkas aangewend word. Die manne is dit eens: bult-op en bult-af, oor passe en selfs met ’n passasier voel die Street Glider dit nie. Hierdie meneer kos natuurlik ’n allemintige R264 000.
Die feit bly jy is ’n gewone kampeerder of ’n 4x4-kampeerder. ’n Harley-man en sy grotmonster meng nou nie sommer met ons gewone bikers nie. Hoe dit ook al sy ons geniet almal die vryheid om op ’n motorfiets rond te rits. Dit maak nie saak op watter ysterperd jy die paaie aandurf nie. Vir my sal dit altyd 'n Honda wees - geniet die vryheid tot ons weer gesels.

Oorspronklike 1903-model.

In hierdie tuinskuur is die eerste Harley ontwerp.

2013 Street Glider.
ARTIKEL: EMSIE MARTIN
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'