MOTORNUUS - Pierre Conradie, 'n lid van die Suid-Kaap Oumotorklub is baie trots op sy geel 1960 Studebaker Champ-bakkie wat hy met groot liefde "Dik Boude" gedoop het.
Die bakkie is so mooi dat dit die organiseerders van die oumotorskou se oog gevang het en Dik Boude pryk op meeste van die promosie-materiaal.
Pierre het verskeie Studebakers, maar dié bakkie is die appel van sy oog en omdat dit geel is, staan dit altyd uit en lok baie vrae, veral "Hoe vinnig kan hy ry?" en "Start asseblief die enjin".
Die enjin is 'n standaard Studebaker 4,5L V8.
Daar is min van dié jaartal op die pad. Dik Boude het nog die oorspronklike laaibak, maar die neus van 'n 1959 Studebaker Lark-sedan. Dit is waarom baie mense opmerk:
"Dit is mos die voorkant van die Lark wat die blitspatrollie gebruik het."
Die laaibak se mooi uitgeboude (step-side) modderskerms huisves ook die spaarwiel - iets wat net by die 1960-model voorkom.
Kyk net hierdie prag interieur.
Pierre het die bakkie ongeveer 10 jaar gelede by 'n glashandelaar in Johannesburg gekoop en dit net betyds van 'n "hotrod" ombouing gered.
Dit was in 'n swak toestand en Pierre het ongeveer drie jaar geneem om dit van die grond af oor te bou. Die enjin is 'n standaard Studebaker 4,5L V8 en kan in 'n japtrap tot 150 km per uur versnel.
Dik Boude het haar naam te danke, of te wyte, aan haar groot modderskerms.
Die Studebaker was die eerste bakkie wat 'n skuifvenster in die agterruit gehad het.
Pierre doen meeste van die restourasie self, maar met dié projek moet erkenning gegee word aan S & Z Paneelkloppers, Roelf & Jack Garage, Kommaweer Stoffering en BFM Enjin Bouers.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'