Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - Die Koos Roets van kortfilms sit dalk in die Group Editors-stal. Wessel van Heerden, 'n joernalis van George Herald en lid van Group Editors se aanlynnuusredaksie is pas beloon met 'n derde plek in kykNET se landwye kortfilmkompetisie.
Hierdie kompetisie is aangebied in vlak 5 van die grendeltydperk en alle inskrywings moes tuis vervaardig word.
Wessel het aanvanklik beeldende kuns aan die Universiteit van die Vrystaat studeer, maar later oorgeskakel na 'n graad in kommunikasiekunde waar fotografie een van sy hoofvakke was. Al was dit die joernalistiek wat hom uiteindelik getrek het, het hy nagraads ook kursusse in pottebakkery, grafiese ontwerp en die vervaardiging van juweliersware voltooi.
Hy het in 2005 as joernalis by George Herald begin en nadat hy 'n ruk ander avonture gevolg het, het hy weer in 2017 teruggekeer as Group Editors se digitale koördineerder.
"Ek het op laerskool my eerste filmkamera gekoop en letterlik alles afgeneem wat ek in die hande kon kry. My liefde vir die medium het net gegroei en ek het in 2003 troues op film begin vaslê."
Vir kykNET se kompetisie, was die reëls vanselfsprekend - jy moes alles by jou huis doen. "Dit het my aandag dadelik getrek omdat dit vir my 'n uitdaging was om met so min moontlik, soveel moontlik te sê."
Kyk die video hieronder:
Sy projek se naam is Verbeel’ding. "Dit gaan oor 'n dogtertjie wat binne haar huis toegegrendel is. Om die alleenheid te oorkom, moet sy haar verbeelding gebruik. Sy verlang na 'n maatjie. Of, jy kan dit sien as 'n sussie wat oorlede is. Haar verlange is groot en sy skep 'n verbeeldingsmaatjie. Die maatjie raak later so eg dat sy haar kan ‘sien’ en met haar kan speel."
Hy moes sy dogter Kiara (9) met lekkergoed omkoop om die hoofkarakter te vertolk. "My ander dogter, Carissa (13), het my gehelp om ligte en reflekteerders vas te hou. Sy het ook gehelp met die klankopnames."
Alhoewel die kortfilm net 3 minute lank mag wees is van die tonele oor en oor geskiet.
Elke klank is na die tyd opgeneem en deur Wessel ingesny om die alleenheid en emosie te beklemtoon en daar is geen dialoog nie. Verder is daar groot moeite gedoen met die tonele, wat elk die storie op 'n besonderse manier vertel.
"Ek point en shoot nie net nie, ek beplan elke deel noukeurig. Mense vergeet maklik hoe belangrik beligting is."
Wessel van Heerden en sy filmspan, sy twee dogters Kiara (9), links, wat die aktrise in die wenfilm was en Carissa (13) wat sy kamera- en beligtingsassistent was.
Hy was totaal oorbluf toe kykNET hom verlede week bel. "Ek het al amper van die kompetisie vergeet." Daar is glo 'n magdom inskrywings ontvang. Sy dogters deel in sy prysgeld om hulle te beloon vir hulle moeite en hulp.
Wessel glo dat video die druk op die vermaaklikheidsindustrie sal verlig. "Ek het toerusting aangeskaf sodat ek regstreekse aanlynuitsendings kan hanteer. Ek glo dit is 'n groeiende mark."
Kliek hier om die ander wenners te sien
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'