KNYSNA NEWS - Christiano May (7), 'n gr. 2-leerder aan Fraaisig Primêre Skool, is ná 'n harde en dapper stryd teen Hodgkin-limfoom weer op die skoolbanke.
Die jong seuntjie is in Februarie 2024 gediagnoseer en het daarna vir maande lank intensiewe behandeling ontvang, insluitend chemoterapie en 'n stamseloorplanting.
"Christiano het skielik begin koorsig raak. Die eerste keer was dit nie so erg nie," vertel sy ma, Michelle May (31), "maar die tweede keer was sy koors so hoog dat hy in die hospitaal opgeneem is."
Hy het skielik baie siek geword, wou nie meer speel nie en het net gelê. "Ek het gesien iets is ernstig verkeerd," sê sy.
Die stryd
Hy is vir 'n week lank in die Knysna Hospitaal opgeneem, maar dokters kon nie vasstel wat fout is nie. Daarna is hulle na George Hospitaal verwys, waar dokters 'n biopsie gedoen het. Dit was toe dat hulle die verpletterende nuus ontvang het.
Gedurende hierdie tyd het Christiano en sy ma hul tuiste ingeruil vir 'n kamer by die CHOC Childhood Cancer Foundation Suid-Afrika, waar hulle tussen behandelings gebly het.
"Ons was vir maande op 'n slag daar en het net nou en dan vir 'n week of twee huis toe gekom," vertel Michelle. "Christiano het altyd so verlang na sy skool en vriende.
"Hy het gereeld gesê hy kan nie wag om terug te gaan nie."
Remissie
Een van die moeilikste dele van sy behandeling was vir Christiano die verlies van sy hare. "Hy was regtig hartseer daaroor – dit was vir hom 'n groot skok," sê Michelle. "Maar mettertyd het hy begin verstaan hoekom dit gebeur het, en hy het dapper aangehou."
In Maart hierdie jaar het Christiano sy laaste chemoterapie ontvang en hy is nou amptelik in remissie.
Sy grootste wens? Om weer skool toe te gaan – en eendag 'n brandweerman te word.
Terug skool toe
Sy terugkeer na Fraaisig Primêre Skool was nie net emosioneel nie, maar ook buitengewoon spesiaal: die brandweer het hom by sy huis in Dam se Bos kom oplaai in hul groot rooi brandweerwa. "Sy juffrou het my vooraf geskakel en gesê ek moenie vir hom die waarheid sê nie, ek moes sê sy juffrou kom hom oplaai," glimlag Michelle.
"Toe die brandweerwa voor ons huis stop, het hy geglimlag van oor tot oor. Hy was so opgewonde, daardie oomblik was vir hom enorm. Sy droom het daardie dag waar geword."
By die skool het sy klasmaats en onderwysers hom met gejuig en omhelsings verwelkom.
Al sal hy steeds opvolgsorg ontvang, is Christiano se lewe nou weer gevul met speelsheid, leer, en drome vir die toekoms. "Ons weet elke dag is 'n geskenk," sê Michelle. "En ek weet hierdie dapper seuntjie sal eendag die beste brandweerman wees wat daar is."
Nadat hy 'n dapper stryd teen kanker gevoer het, is Christiano se droom onlangs bewaarheid toe die brandweer hom by sy huis kom oplaai het om skool toe te gaan.
'n Menslike ketting is gevorm deur klasmaats en onderwysers wat kankervegter , Christiano May (7) terug verwelkom. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’