TUINROETE NUUS - Vier munisipale amptenare van die Kannaland-munisipaliteit is op 25 Novem-ber deur die Valke op aanklagte van bedrog in hegtenis geneem.
Daar word beweer dat hulle die munisipaliteit uit meer as R338 miljoen bedrieg het en hulself verryk het deur bedrieglike aanstellings in senior poste te maak.
Volgens kol. Katlego Mogale, direkteur van prioriteitsmidaadsondersoeke is drie arrestasies deur die Valke se ernstige misdaadspan uitgevoer en die munisipale bestuurder het homself later aan die Valke oorgegee.
Die direkteur van korporatiewe dienste, Hendrik Barnard, die voormalige hoof van finansies, Nigel Delo, die munisipale bestuurder, Morné Hoogbaard en die menslike hulpbronbestuurder, McGrandile Makier, het reeds in die Ladismith-landdroshof verskyn. Hulle is op borgtog van R15 000 elk vrygelaat en verskyn weer op 26 Januarie in die hof in Oudtshoorn.
Volgens Eric Ntabazalila, woordvoeder van die nasionale vervolgingsgesag, word hulle aangekla op twee klagtes van bedrog en twee van oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.
Daar word beweer dat Makier in verskeie posisies binne die munisipaliteit aangestel was, waar hy waarnemende toelaes ontvang het en ook besigheid met die regering gedoen het sonder om dit aan die munisipaliteit te verklaar.
McGrandile Makier
Woordvoerder van die Valke, Eric Ntabazalila. Foto: Deon Meyer
Hy was ook die eienaar van Mcgine Development Group (Pty) Ltd.
Makier is vanaf 20 Oktober 2014 tot 30 April 2015, op kontrakbasis as Barnard se assistent aangestel. Sy kontrak is later tot einde Mei 2015 verleng. "Hy is nie deur die Kannaland-munisipaliteit se salarissisteem betaal nie, maar deur die voorsieningskettingbestuurstelsel wat onreëlmatig is," lui Ntabazalila se verklaring.
Ntabazalila sê verder dat Makier, terwyl hy op kontrakbasis aangestel was, ook vir ses maande as die bestuurder van gemeenskapsdienste aangestel was waarvoor hy 'n salaris ontvang het.
Volgens Ntabazalila is Makier op 25 November 2015 as menslike hulpbron-bestuurder aangestel sonder dat hy vir die pos aansoek gedoen het. Hy sê dat die memorandum van die aanstelling bedrieglik was en dat Makier vir agt maande steeds 'n salaris as waarnemende bestuurder van gemeenskapsdienste ontvang het nadat hy reeds as menslike hulpbronbestuurder aangestel is.
Morné Hoogbaard Foto: Facebook
Daar was glo ook oortyd- en verlofuit-betalings wat onregmatig was. Dit blyk dat Makier bykans R200 000 aan salarisse ontvang het.
Makier het na bewering ook werk vir die departement van landbou gedoen terwyl hy in diens van die munisipaliteit was en het dit glo nie aan sy werkgewer verklaar nie. Daarvoor is hy na bewering R302 720 betaal.
Volgens Ntabazalila het Barnard ook voordeel uit die gebeure getrek. Dit blyk dat hy in 2015 bykans R413 000 onregmatig in bonusse, oortyd en verlofuitbetalings ontvang het. Daar is ook glo bewyse dat daar in 2015 ses onregmatige aanstellings in die munisipaliteit gemaak is.
Die poste is klaarblyklik geadverteer, maar is verbaal onttrek voor kandidate daarvoor kon aansoek doen.
Na die advertensies onttrek is, het Barnard na bewering vir Hoogbaard gevra om af te wyk van die normale keuring- en siftingsproses sodat die voorkeurkandidate aangestel kan word. Daar kon volgens Ntabazalila nie rekords gevind word dat die kandidate wat aangestel is, aansoek vir die poste gedoen het nie en is hulle na ses maande permanent aangestel.
Ntabazalila sê: "Adv. Valley-Omar, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê dat die beskuldigdes skuldig is aan die klagtes teen hulle deurdat hulle wederregtelik versuim het om aan hul pligte te voldoen. Hulle het onregmatig mense aangestel en verkwiste uitgawes van meer as R2 miljoen aangegaan."
Nigel Delo Foto: Facebook
Lees meer by susterskoerant, Oudtshoorn Courant
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'