KNYSNA NUUS - Drie gerehabiliteerde dwelmverslaafdes van Hornlee is verlede Sondag met groot vreugde en trane van blydskap in die gemeenskap terugverwelkom.
Die twee mans en 'n vrou het van Johannesburg teruggekeer na hulle vir ses maande in die Institution of Grace (IOG) rehabilitasiesentrum in Johannesburg behandel is.
Die driestuks, Tameron Bezuiden-hout (39), Averol Nel (38) en Duran Stroebel (34), wat almal vir meer as 10 jaar dwelms gebruik het, se rehabilitering is deur die nie-regeringsorganisasie in Hornlee, Recovery Addiction Program (RAP), gefasiliteer.
Die voor- en ondervoorsitter van RAP, die egpaar Donovan en Mandy Pofadder, is dit eens dat daar wel hoop is vir ouers wat worstel met probleemkinders vasgevang in 'n bose kringloop.
Die Pofadders is bekende gemeenskapswerkers in Hornlee en tot dusver het RAP al 11 dwelm-verslaafdes op hierdie manier gehelp.
Groot steun vir program
"Om die rehabilitasieprogram te finansier het die hele gemeenskap geld ingesamel en die ouers het ook 'n klein gedeelte gegee. Wat hierdie program so besonders maak, is dat geloof 'n groot rol speel. Met ander woorde, jy word gereinig binne en buite. Die plan is nou om hierdie drie voogde by ons plaaslike programme te maak sodat hulle ander kan inspireer om af te sien van dwelms wat altyd net 'n doodloopstraat is."
Pofadder sê die trane het vrylik geloop toe hulle Bezuidenhout, Nel en Stroebel by die lughawe gaan haal het.
"Om die rou emosie van ouers en familielede te sien maak alles die moete werd.
"Dis jare se seerkry, verwyt en woede wat uiteindelik vrygelaat word met trane.
"Bloed kan ongelukkig nie gekies word nie en die aanvaarding en vergewing is alles deel van hoe om 'n gebroke en disfunksionele gemeenskap weer heel te maak.
"Ek en my vrou is elke dag bereid om ons vingers stompies te werk om die nodige borgskappe te kry sodat ons kan voortgaan met ons missie.
"Gelukkig het ons goeie verhoudings met Knysna se besighede en daarvoor kan ek net die Here dank, want sonder hulle, is ons planne vergeefs.
Die driestuks, van links: Duran Stroebel (34), Tameron Bezuidenhout (39) en Averol Nel (38). Foto: Wyndham Ewerts
"Ook aan die hele Hornlee-gemeen-skap wat ons gehelp het, baie dankie."
Bezuidenhout vertel dat sy tot inkeer gekom het toe haar dogter haar vra wanneer sy gaan ophou met dwelms. "Ek het my situasie bekyk en die armoede gesien waarin ek en my kind leef as gevolg van my dwelmgewoontes en net besluit - genoeg is genoeg. Ek is toe huiwerig na 'n byeenkoms van IOG by die gemeenskapsaal wat gegaan het oor drugkoppe. Daar het ek 'n way out uit die gemors gesien."
Pofadder het tydens die onderhoud met Knysna-Plett Herald gesê dat hulle dit eers geheim wou hou, maar dat daar reeds planne in die pyplyn is om Bezuidenhout in te skryf vir 'n kursus in verpleging wat binnekort begin.
Volgens Nel was hy gereeld in die gevangenis weens dwelms en is hy verlig dat hy hierdie hoofstuk van sy lewe finaal kan afsluit.
"Ek het my ma baie seer gemaak toe ek destyds so gesteel het by die huis om te kan rook. Nou kan ek haar weer in die oë kyk met trots dat ek weer my ouself is wat sy destyds geken het."
Nel is met sy terugkeer Sondag konstruksie-werk aangebied wat hy met beide hande aangegryp het. Hy beplan ook om sou gou moontlik sy voertuiglisensie te bekom.
Stroebel sê op sy beurt dat sy dogter sy inspirasie is om finaal dwelms die rug toe te keer.
"My nege-jarige dogter raak vinnig groot en ek wil nie vir haar 'n verleentheid wees nie, maar 'n pa waarop sy kan trots wees.
"Ek is ook dankbaar dat my vriende van voor ek met dwelms deurmekaar geword het, weer in my lewe is.
"Dis was 'n lekker gevoel om my ma en familie so bly te sien. My lewensdroom was al die jare om 'n verkeersbemampte te wees en ek gaan als probeer om dit te bereik.
Vir nou wil ek dit rustig vat en soveel moontlik terugploeg in my gemeenskap."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’