SUID-KAAP NUUS - Streeksverteenwoordigers van vier politieke partye het Woensdagoggend in Oudtshoorn gesukkel om hulle stemme bo die jouery van toeskouers hoorbaar te maak.
'n Lewendige debat is op 27 Maart tussen 07:00 en 09:00 deur RSG vanaf die KKNK se RSG-verhoog uitgesaai.
Die vier leiers van die Suid-Kaap wat aan die debat deelgeneem het was Jaco Londt (DA), Basil Petrus (Good), Jovan Bruinders (ANC) en Dawid Kamfer (Icosa). RSG-omroeper Anita Visser en Justin Kennerley het hulle hande vol gehad om die gehoor wat hoofsaaklik uit DA-, Good- en Icosa-ondersteuners bestaan het, in toom te hou.
Grootste knelpunte bespreek
Die grootste knelpunte onder bespreking was die toekenning van groot kontrakte, behuising en korrupsie.
Londt het op aantygings van Kamfer dat slegs wit kontrakteurs aangestel word om paaie te bou, gereageer deur te sê dat kontrakte volgens spesifieke riglyne aan tenders toegestaan word met geen voorkeur aan enige bevolkingsgroep nie.
Die gesprek oor behuising het hewige reaksie ontlok met lede van Icosa wat die DA daarvan besluldig het dat hulle slegs aan spesifieke mense huise toeken. Londt het daarop klem gelê dat die DA nie slegs huise bou nie, maar ook verseker dat die mense aan wie huise gegee word, hulle eie titelaktes ontvang. Volgens hom is die Wes-Kaap die enigste provinsie wat soveel klem daarop lê dat mense titelaktes moet kry.
Bruinders was van mening dat die DA se rekord vir die voorsiening van behuising nie so suksesvol is soos wat hulle voorgee nie. Volgens hom moes die DA in die 2017/2018-boekjaar in Mosselbaai en George elk R14-miljoen se behuisingsgeld aan die nasionale tesourie terugbetaal wat nie op behuising spandeer is nie.
Beskuldigings van korrupsie
Terwyl die sprekers van die ANC, DA en Icosa mekaar beskuldig het, het Petrus gesê dat Good se prioriteit die uitwissing van korrupsie op alle vlakke is. Dit was veral Kamfer wat erg onder Bruinders deurgeloop het toe dié hom daarvan beskuldig het dat hy korrup is.
Een van die gehoorlede, Ben van Wyk, het sy misnoeë teenoor die res van die gehoor sowel as die sprekers te kenne gegee oor die persoonlike aanvalle en aantygings wat heen en weer geslinger word. "Ek het gehoop om 'n debat te hoor waar elke politieke party vergeet van die probleme en vir my sê wat hulle bied om my te oortuig om vir hulle te stem. Petrus het na die debat verduidelik dat sy party, die South African Civics (SAC) slegs aan plaaslike verkiesings gaan deelneem en dat hy en sy ondersteuners dus vir vanjaar se verkiesing op nasionale en provinsiale vlak hulle stem aan Patricia de Lille se Good-party toesê.
Na afloop van die bebat het 'n onderonsie tussen 'n lid van die ANC en ondersteuners van Icosa uitgebreek, wat deur sekerheidspersoneel opgelos is toe hulle tussenbeide getree het.
Deelnemers aan die debat was, van links: Jaco Londt (DA), Jovan Bruinders (ANC), Basil Petrus (Good) en Dawid Kamfer (Icosa).
'n Gedeelte van die gehoor tydens Woensdagoggend se politieke gesprek op RSG. Foto's: Hannes Visser
Dawid Kamfer van Icosa.
Die deelnemers aan Woensdagoggend se politieke debat, van links: Justin Kennerley (RSG), Jovan Bruinders (ANC), Anita Visser (RSG), Jaco Londt (DA) en Basil Petrus.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'