Eden-rampbestuur het te kenne gegee dat die Heimersrivierpad Woensdagoggend weer geopen is vir verkeer, maar van Vrydagoggend af sal die pad net vir landboudoeleindes, noodvoertuie en diensorganisasies en pendelaars wat daagliks tussen dié twee dorpe moet ry, oop wees. Spesiale permitte moet by Agri se kantore op Oudtshoorn of Eden-rampbestuur in George bekom word om die pad te gebruik.
Slegs voertuie tot 3,5 ton kan die Heimersrivierpad gebruik, en dan mét permitte. Provinsiale verkeersdienste se mnr. Albert Nokole het te kenne gegee dat boetes uitgereik sal word indien voertuie nie oor die nodige permitte beskik nie.
Intussen dui alles daarop dat die N12 tussen Oudtshoorn en die T-aansluiting met die pad uit George, vir nog meer as twee maande gesluit sal wees. Die pad is op Sondag, 7 Augustus gesluit ná ‘n rots-storting op Vrydag, 5 Augustus, 10 km buite Oudtshoorn plaasgevind het.
Mnr. Juan Prodehl, distrikspadingenieur in George, het verduidelik dat hy genoodsaak was om die pad te sluit, aangesien ‘n Hooggeregshofuitspraak hom verplig om ‘n pad te sluit indien dit lewensgevaarlik is.
Die Hooggeregshofuitspraak volg nadat ‘n motoris dood is tydens ‘n rotsstorting op Chapmans Peak in Kaapstad.
Die George Herald het die afgelope week met verskeie gebruikers van die N12 gepraat, wat hoofsaaklik vir besigheidsdoeleindes die pad gebruik. Die meeste klagtes kom van Agri se kant en Klein-Karoo Agri se kantoorbestuurder, mnr. Piet Lodder, het gesê dit is veral die melkbedryf wat daaronder ly.
Koerierdienste op George en Oudtshoorn kla meer oor die ongerief en ekstra tyd wat hulle op die pad moet spandeer, as die finansiële impak van die ompad via die Robinsonpas.
Navrae
Vir enige navrae oor die N12-sluiting kan Eden-rampbestuur geskakel word by 044 805 5071.

‘n Google Earth satelietfoto van waar die rotsstorting op die N12 plaasgevind het.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS