Die inplanting is op 18 Julie by Tygerberg Hospitaal gedoen en die gehoorapparaat is aangeskakel op 13 Augustus.
Muller, wat die eerste persoon in Knysna is om 'n nieroorplanting te kry, het sy gehoor verloor in 2010 weens die sterk antibiotika wat hy gereeld vir infeksies moes gebruik terwyl hy dialise ondergaan het. Sy nier, wat van 'n 57-jarige vroulike skenker gekom het, was op 30 Augustus een jaar oud.
Nou het Muller en sy familie nog meer rede om van dankbaarheid oor te loop!
"Hy het eintlik gesnak na sy asem en sy hand voor sy mond gesit daai eerste oomblik toe hulle dit aanskakel en hy sy eie stem hoor - hy het mos nog nooit sy eie, dieper stem as 'n tiener gehoor nie en kon nie glo dit is hoe hy nou klink nie!" vertel sy ma, Irene Muller, wat pas tien jaar diens by Milady's gevier het, opgewonde.
Lida Muller, die audioloog by Tygerberg Hospitaal wat spesialiseer in gehoorgestremdheid, vertel dat nadat sy Muller se spraakprosesseerder aangeskakel het en met hom gepraat het, het hy vir 'n rukkie eers net na haar gestaar en toe breed geglimlag.
"Hy het die mooiste glimlag gegee en heel verwonderd gelyk dat hy my kon verstaan!" vertel sy ontroer.
Muller is vroeër die jaar ge-evalueer en daarna as kandidaat vir die operasie gekeur. Die audioloog verduidelik dat 'n magneet die transmissiespoel se blokkie teen die pasiëntjie se kop hou. Klank word dan deur die spraakprosesseerder op sy oor omvorm na 'n elektriese kode deur die transmissiespoel na die inplanting in die binne-oor te stuur.
"Die klank is anders is wat ons hoor, maar na genoeg aan normale gehoor sodat die draer van die apparaat wel kan verstaan en kan kommunikeer," verduidelik sy.
Saans wanner hy gaan slaap haal hy dit af en dan is hy weer doof.
Die operasie het tussen drie en vier uur geduur en die Mullers moet sowat R30 000 van die koste self dra, waarvan Irene Muller tot dusver slegs R13 000 kon insamel. Sy het onder meer T-hemde verkoop wat die hospitaal aan haar gegee het en wat 'n boodskap opgehad het oor gehoorgestremdheid.
"Hy luister nou weer na musiek en is verbaas oor liedjies wat hy voorheen gesing het, maar vergeet het," vertel ma Irene.
Dylan-Shaw moet nou van voor af leer of hy sy eie voetstappe of die van ander mense kan hoor, of hy water uit die kraan kan hoor tap en selfs die voëls buite kan hoor sing.
"Dis soos 'n nuwe wêreld wat vir hom oopgegaan het! Alles is 'n belewenis en hy is so bly om weer terug te kan gaan skool toe," vertel sy. Op die dag wat Dylan-Shaw se nier 'n jaar oud was, het sy ma uit dankbaarheid ook die ambulansbestuurder, Harry Lamini wat hulle altyd bystaan, gebel om hul blydskap en dankbaarheid teenoor hom te getuig. "Hy is soos 'n kind vir die paramedici wat hom altyd moes kom optel vir al sy operasies en weeklikse dialise. Selfs vir die hospitaalpersooneel ook - almal is baie erg oor Dylan omdat hy so 'n lieflike persoonlikheid het," glimlag Irene trots.
Omdat Dylan-Shaw nie voorheen oor 'n telefoon kon gesels nie, was die eerste oproep wat hy gemaak het vir hom 'n grotigheid. Hy het gekies om Carl Dreyer, 'n distrik-oudste van die Nuwe Apostoliese Kerk in Hornlee, te bel.
"Dis Dylan hier," het hy met selfvertrou in die gehoorbuis gepraat. "Ek wil net dankie sê vir almal se gebede vir my."
Sy sussie, Shanice (19) en broer, Kurt (18) is net so verheug dat hul kleinboetie weer kan hoor.

Dylan-Shaw Muller kan nou saam met sy Graad 7-klas by Sunridge Primêre Skool gesels en baljaar. Links voor by hom staan sy juffrou, Mary Hendricks en sy moeder, Irene Muller.
ARTIKEL: ANOESCHKA VON MECK, KNYSNA-PLETT HERALD-JOERNALIS