KRANSHOEK NUUS - Daar was groot opgewondenheid by Kranshoek Primêr toe die skool op Maandag 1 Junie sy loopbaanklub amptelik bekendgestel het.
Die doel van dié spesiale dag was om leerders bloot te stel aan verskillende loopbaanmoontlikhede en hulle te inspireer om reeds op 'n jong ouderdom oor hul toekomsdrome en doelwitte te begin nadink.
Leerders het die geleentheid gehad om na verskeie gassprekers en verteenwoordigers van organisasies te luister wat hul kennis, ervarings en passie met hulle gedeel het. Dit was 'n dag vol leer, ontdekking en motivering, waartydens leerders meer te wete kon kom oor verskillende beroepe en die vaardighede wat nodig is om eendag suksesvol te wees.
Die skool het sy dank uitgespreek teenoor Ruby Chetty, die brandweerdiens, SANParke, Denron en Blue Ribbon wat tyd afgestaan het om die leerders toe te spreek en waardevolle kennis met hulle te deel. Volgens die skool het elke bydrae 'n groot impak gehad om die horisonne van die leerders te verbreed.
Kranshoek Primêr se vakadviseur, Adri Stoffels, sê die glimlagte op die leerders se gesigte het gewys hoeveel hulle die ervaring geniet het.
"Die leerders het nie net nuwe dinge geleer nie, maar ook waardevolle insigte gekry oor moontlike loopbane en hul eie potensiaal. Kranshoek Primêr is trots daarop om geleenthede te skep waar leerders kan groei, droom en voorberei vir 'n suksesvolle toekoms," het sy gesê.
Sy het ook lof uitgespreek vir die skool se personeel vir hul ondersteuning en samewerking om van die dag 'n sukses te maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’