KNYSNA NEWS - 'n Merkwaardige vrou van Hornlee, Mandy Pofadder, staan bekend vir haar onbaatsugtige diens aan haar gemeenskap.
Al sedert 2011 is sy en haar man, Donovan Pofadder, aktief betrokke by verskeie gemeenskapsinisiatiewe wat hoop bring aan jongmense en gesinne in nood.
Die egpaar het saam met vriende 'n beweging begin genaamd H.O.P.E (Help Our People Excel).
Die doel: om jongmense aktief betrokke te hou, hul talente te ontwikkel, en hulle weg te hou van negatiewe invloede soos dwelms en bendegeweld.
"Ons het daardie tyd die behoefte gesien – nie net om die jeug besig te hou nie, maar om hulle te help om sin en rigting in hul lewens te vind," sê Pofadder.
Die Covid-19-pandemie het in 2019 'n demper op hul aktiwiteite geplaas, maar die egpaar het steeds kontak behou met hul netwerk.
Met verloop van tyd het Donovan die politieke arena betree, en Mandy het hom aktief ondersteun – 'n betrokkenheid wat hul oë verder oopgemaak het vir die wye nood in die gemeenskap.
Uit hierdie betrokkenheid het 'n nuwe projek ontstaan: RAP Knysna (Recovery Addiction Program) – 'n program wat gesinne ondersteun wat geliefdes het wat worstel met dwelmverslawing. "Ons het 'n passievolle span, en ons glo in genesing – nie net vir individue nie, maar vir hele gesinne," sê sy.
'n Boodskap van hoop aan vroue
Terwyl vroue nou in Augustusmaand gevier word, het Mandy 'n boodskap spesiaal gerig aan vroue – en veral jong vroue: "Ek wens dat meer vroue hul waarde sal besef. Daar is soveel potensiaal opgesluit in elkeen van ons. Een van my gunsteling skrifte sê: 'Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.'"
Sy verwelkom die fokus op vroue tydens Vrouemaand en glo dat sulke geleenthede 'n ruimte skep vir ondersteuning en bemagtiging. Maar sy glo daar moet méér gedoen word – veral vir jong vroue.
"Die wêreld waarin jong vroue vandag grootword, is vol uitdagings. Ons moet hulle toerus, bemagtig en ondersteun, sodat hulle hul plek in die samelewing vol vertroue kan inneem."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’