Die liggaam van Wayne Stroebel (35) van Hornlee, Knysna, is in 'n brandende voertuig ontdek op Vrydag, 26 April.
Die Plettenbergbaaise polisie het bevestig dat Stroebel in die brandende voertuig in 'n voetpad langs die N2 by New Horizon, Plettenbergbaai ontdek is om 03:00.
Daar word beweer dat Stroebel met 'n hamer oor die kop geslaan is voordat onbekende verdagtes hom en sy werksvoertuig aan die brand gesteek het. Daar word verder beweer dat Stroebel ook beroof en gesteek is.
Volgens luitenant Marlene Pieterse, SAPS mediaskakelbeampte, is die bewerings "vals en kan nie bevestig word nie".
"Daar is geen getuies om bewerings te staaf nie," het Pieterse bygevoeg. Die slagoffer was al insittende in die voertuig tydens die wrede voorval.
"Dit is onbekend hoe die slagoffer met sy voertuig in die voetpad beland het. 'n Geregtelike nadoodse ondersoek is geopen," het Pieterse gesê.
Dié ondersoek sou op Dinsdag, 30 April plaasvind. Die oorsaak van die brand en Stroebel se dood was teen druktyd nog nie bekend nie.
Die gemeenskap van Hornlee en Plettenbergbaai is nog in die duister oor wat regtig daardie aand gebeur het. Volgens beweringe het Stroebel en sy broer 'n saamrygeleentheid vanaf Hornlee tot New Horizon gebied aan twee mans. Stroebel en sy broer het glo die mans by die taxistaanplek in New Horizon afgelaai.
Volgens 'n betroubare bron, wat verkies om anoniem te bly, was Stroebel en 'n groepie persone gesellig by die taxistaanplek. Die bron het bygevoeg dat sy nie die mense wat by Stroebel was ken nie. Sy kon ook nie sê of Stroebel se broer by hom was nie, want sy ken nie hom nie. Sy het verder beweer dat Stroebel met niemand onenig was toe sy die groep om ongeveer 20:00 verlaat het nie.
Volgens ander gerugte het Stroebel se broer gedurende daaropvolgende gebeure vir sy lewe gevlug. Volgens dié bewerings het die polisie glo Stroebel se broer langs die pad aangekeer waar hy onderweg Knysna toe was. Nadat die polisie Stroebel se broer aangekeer het, het hulle hom glo vervoer na die toneel waar die brandende voertuig gestaan het. Terwyl die polisie daar op die toneel besig was, het Stroebel se broer weereens gevlug. Die polisie het hom glo weer langs die N2 gevind, waarna hy na die Plettenbergbaaise polisiestasie geneem is vir ondervraging. Dié gerugte kon nie bevestig word nie.
Volgens Stroebel se ma, Bertie, praat haar ander seun nie oor die voorval nie, en is hy erg getraumatiseer.
Geen verdere inligting oor hierdie raaiselagtige moord is van amptelike bronne ontvang nie.
Stroebel het vir BMP Merchandising gewerk en is hy sowat 'n week voor die wrede voorval bevorder tot senior-promotor. Dit was danksy sy nuwe posisie dat Stroebel die werksvoertuig ontvang het om goedere te vervoer na verskeie maatskappye.
Stroebel se ma het gesê dat sy Wayne wil onthou soos sy hom geken het en verkies daarom om nie sy liggaam te gaan besigtig nie.
"Almal was lief vir hom gewees en almal het hom geken. Ek het myself gevra hoekom hulle my kind so wreed moes doodgemaak het. Hoekom kon hulle hom nie net seergemaak het en gelos het nie? Hoekom moes hulle hom en die bakkie aan die brand gaan steek het, hoekom?" het Bertie gevra.
(Inligting in verband met Wayne se begrafnis was teen druktyd nog nie bekend nie.)

Wayne Stroebel se liggaam is in hierdie uitgebrande wrak in 'n voetpad by New Horizon gevind op Vrydag, 26 April. Teen druktyd is die wrak nog steed nie verwyder nie.