KNYSNA NUUS - Concordia Primêr het op Maandag 15 Junie sy jaarlikse lootjieprojek by die Woodmill Lane-winkelsentrum van stapel gestuur.
Gr. 7-leerders het saam met O'Neal Nankoo, 'n onderwyser en die projekbestuurder, die stalletjie net buite Pick n Pay beman, terwyl ander leerders kaartjies by besighede in die middedorp verkoop het.
Kaartjies kos R10 elk of R100 vir 'n boekie. Daar is altesaam 14 waardevolle pryse op die spel. Die gelukstrekking vind op Vrydag 28 Augustus plaas en inwoners kan tot 27 Augustus nog kaartjies koop.
Nankoo sê die kaartjieverkope het Maandag goed gevorder en hy het sy waardering uitgespreek teenoor die gemeenskap vir hul ondersteuning. Volgens hom het die projek ten doel om geld in te samel vir die aankoop van broodnodige hulpbronne, soos skryfbehoeftes, wat binne en buite die skool gebruik kan word.
Leerders sal by verskeie winkelsentrums kaartjies verkoop. Alternatiewelik kan mense kaartjies by Concordia Primêr aankoop.
Vir navrae kan Nankoo by 073 145 0671 gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’