PLETTENBERGBAAI NUUS - Meer as ses dekades ná hul wittebrood keer Dirk en Elsabé Leeuw steeds terug na dieselfde plek waar hul getroude lewe begin het.
Beacon Island Resort in Plettenbergbaai het sedert 1964 'n spesiale plek in hul harte behou - 'n bestemming waar herinneringe oor 62 jaar heen voortleef.
Die egpaar, albei 85 jaar oud, se liefdesverhaal het begin toe hulle ná skool by Sanlam in Bellville begin werk het. Elsabé het van Malmesbury gekom en Dirk van Heidelberg in Transvaal. Hulle het verlief geraak, verloof geraak en getrou voordat hulle hul in die Paarl gaan vestig het.
Vir hul wittebrood het hulle Plettenbergbaai gekies. "Ons het daarop besluit omdat dit so 'n idilliese beeld gehad het. Toe soek ons 'n plek en vind Beacon Island Resort, en bespreek dit," vertel Dirk.
Van eenvoudige hotelkamer tot vyfsterverblyf
Hul eerste besoek in 1964 was heel anders as vandag. Beacon Island Resort was destyds nog die ou hotel wat uit 'n voormalige walvisverwerkingsaanleg ontwikkel is.
"Ons het 'n kamer gehad sonder badkamer en gemeenskaplike geriewe, maar dit was ongelooflik lekker vir ons," onthou Dirk.
Ná twee jaar in die Paarl het hulle weer besoek afgelê. Dirk se werk het hulle later na George, Port Elizabeth en in 1970 na Johannesburg geneem. Nadat hy in 1977 sy eie onderneming begin het, het hulle ook 'n vakansiehuis in Hermanus gekoop.
Ná 'n teleurstellende deeltitelervaring in Durban het hulle uiteindelik by Beacon Island Resort belê. "Dit het oor die jare uitgedraai as een van ons beste vakansiebesluite ooit," sê hy.
Die egpaar het al 28 lande besoek en in uitstekende akkommodasie gebly, maar Beacon Island Resort bly vir hulle besonders. "Sonder teenspraak is Beacon Island Resort met sy setting en aanbieding op vyfstervlak," sê Dirk.
Respek en geduld hou liefde staande
Na 62 jaar saam beskryf Dirk hul huwelik as normaal, met sy goeie en minder goeie tye. "Jy moet respek en geduld teenoor mekaar tot die maksimum handhaaf, anders sal dinge uitmekaar spat," sê hy.
Sy raad is om tyd te neem voordat daar tydens 'n meningsverskil gereageer word. "Eie belang moet getemper word tot ons belang," beklemtoon hy.
Vir die egpaar is die mense by Beacon Island Resort ook deel van die aantrekkingskrag. Dirk sê die vakansiegangers daar vorm maklik 'n hegte gemeenskap. "Die interaksie is asof ons mekaar al jare ken, al is ons totale vreemdelinge," vertel hy.
Die omgewing, besienswaardighede en aangename klimaat dra verder by tot hul liefde vir die bestemming. "Op ons ouderdom en oor die laaste 35 jaar kan ons nie vir meer vra nie," sê Dirk.
Dirk Leeuw en sy bruid, Elsabé, op hul troudag. Foto’s: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’