LEEFSTYL NUUS - Dis belangrik dat ouers en versorgers gereeld met babas en peuters moet gesels om die kinders se taalontwikkeling te ondersteun.
Maar baie volwassenes (veral pappas) sukkel soms om te dink aan iets om te sê vir iemand wat nog glad nie aan die gesprek kan deelneem nie. Ons gee raad.
Wenke:
+ Mense wat maklik met babas praat, volg gewoonlik maar hul eie persoonlike “reseppie”. Hulle sal byvoorbeeld altyd gesels oor wat hulle self, en die baba op sy beurt, in ’n spesifieke situasie sien, hoor, voel, doen en dink. Dit help ook om van tyd tot tyd ’n lawwe speletjie uit te dink.
+ Die maklikste manier om te leer om so ’n resep te volg, is om letterlik ’n lys invalsfrases in gedagte te hou. Fokus dan daarop om een of twee frases op ’n keer in te oefen. Hier is voorbeelde:
- “Ek sien …” – Hierdie frase skep vir jou ’n geleentheid om iets in die onmiddellike omgewing uit te wys en te benoem, waarna jy dan ’n klompie lukrake feite oor die onderwerp deel. Byvoorbeeld: “Ek sien ’n voël. Die voël het vlerke. Daar sit hy nou in die groot boom. Die voël sê, ‘twiet-twiet.’”
- “Ek hoor …” – Weereens ’n manier om ’n kind se aandag te fokus op iets in die omgewing voordat jy dit benoem en daaroor praat.
- “Voel hier! Dis ’n …” – ’n Voorbeeld van hoe ’n sensoriese ervaring as ’n aankopingspunt gebruik kan word.
- “Ek is besig om te __” – Kondig aan wat jy doen en gebruik dan die momentum wat jy só opbou om meer te sê. Probeer belangstelling. Byvoorbeeld: “Ek is besig om water in jou koppie te gooi. Ons hou daarvan om water te drink. Hierdie water is lekker koud. Hier is koue water vir my dorstige baba!”
- “Jy is besig om te __” – Dieselfde tegniek as hierbo; jy fokus net op wat jou kind doen in plaas van wat jy doen.
- “Wonder jy hoekom …?” – Die beste tyd om hierdie frase te gebruik is op die presiese oomblik wanneer jou kind self aandag skenk aan iets wat gebeur. Antwoord die vraag dan met: “Dis sodat …” Byvoorbeeld: “Wonder jy hoekom ek vir jou sokkies aantrek? Dis omdat die sokkies jou voete warm sal hou.”
- “Kom ons speel …” – Hierdie prettige frase is veral effektief wanneer babas 11 maande of ouer is omdat hulle op daardie ouderdom begin leer om ’n eenvoudige storielyn te volg. Hier is ’n voorbeeld: “Kom ons speel hierdie bal papier is die son. Dit skyn helder. Maak toe jou oë! Goed. Jy kan nou kyk. Die son is weg. Waar is die son nou? Dit is agter my rug. Dit kom weer uit. Oeps. Dit skyn in ons oë. Maak toe jou oë … vinnig! Jy kan nou kyk. Die son is weg. Waar is die son nou? Dis onder my been. Hier kom die son weer uit! …”
*Babas geniet eenvoudige aksies wat genoeg kere herhaal word dat hulle kan begin voorspel wat volgende gaan gebeur.
Kry die volledige artikel hier: Praat só met jou baba - Afrikaans.com
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’