EDEN DISTRIK NUUS - Die Junie-vloede in die Eden-distriksmunisipaliteit se bedieningsarea, word beskryf as die sewende weerverwante ramp sedert die 2003-vloede.
Die totale skade met die 7-10 Junie vloed word op bykans R353-miljoen bereken.
Mnr. Gerhard Otto, hoof van die Eden-distriksmunisipaliteit rampbestuur het ‘n volledige verslag ten opsigte van die vloede aan die distriksraad voorgelê.
Skade aan munisipale infrastruktuur in George word op R21 525 941 bereken, en behuisingskade beloop R15 868 502.
Reënvalsyfers
By Witfontein, George, is altesaam 207 mm reën gemeet vir die betrokke tydperk. By George Piek is 221,6 mm gemeet en by George Lughawe 162 mm. In die Eden-distrik is op Oudtshoorn die minste reënval gemeet, naamlik 47,2 mm. Ladismith het die meeste reënvalsyfer gemeet wat in ‘n 24 uur-tydperk geval het, naamlik 102,8 mm op Woensdag, 8 Junie.
Oorsig
Otto skryf in sy verslag dat die Junie-vloede ‘n ernstige knou tot gevolg gehad het vir die plaaslike ekonomie, infrastruktuur, eiendom, die omgewing en gemeenskappe wat daaronder gely het.
Die meeste van die Departement Waterwese se damme, naamlik die Buffelsjag-, Duiwenshok-, Korrente-, Calitzdorp-, Wolwedans-, Hartbeeskuil- en Tuinroetedam het hul walle oorstroom. Die Gourits-, Olifants-, Keurbooms-, Groot Brak-, en Touwsrivier was in vloed en die Touwsrivier se sluise is met aanvang van die reënval oopgemaak as voorkomingsmaatreël.
Risko- en kwesbaarheidstudie
‘n Risiko- en kwesbaarheidstudie deur die Eden-distriksmunisipaliteit sal insluit die beskikbaarstelling van R1,5-miljoen as deel van die distriksraad se hersiene begrotingsproses op die huidige boekjaar se begroting om te gebruik vir dié studie. Die resultaat sal gebruik word om munisipaliteite in Eden te help om potensiële vloedgebiede te identifiseer en om ook te gebruik vir toekomstige beplanning en ontwikkeling binne die munisipale gebiede. Die distriksraad sal ook oorweging daaraan skenk om by die Provinsiale rampbestuursentrum aansoek te doen om die onlangse vloed as ‘n ramp te verklaar.
ARTIKEL EN FOTO: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS.