Kinders kan vir verkragting aangekla word
"Verkragting is ‘n Skedule 3-misdryf ingevolge die wet," sê Marx. "Indien die oortreder tussen 10 en 14 jaar oud is moet die polisiebeampte eers seker maak of die minderjarige oortreder dalk in ‘n jeugsorgsentrum soos Huis Outeniqua hier in George aangehou kan word."
Indien een nie beskikbaar is nie moet hy in polisieselle aangehou word. "Dit is dus baie belangrik dat die kind deur ‘n maatskaplike werker geassesseer word ten einde ‘n aanbeveling hieroor te kry," verduidelik Marx.
Bo 14 mag selle toe
Indien die oortreder ouer as 14 is, mag die polisie die oortreder in die polisieselle aanhou tot sy eerste verskyning voor ‘n landdros. "Na sy eerste verskyning sal hy eerder in ‘n jeugsorgsentrum aangehou word. Aanhouding in ‘n gevangenis is ‘n heel laaste opsie vir die hof. Die hof kan die minderjarige oortreder ook vrylaat in die sorg van sy voog, of borg vasstel."
Vonnis kyk na faktore
Na skuldigbevinding op ‘n klagte van verkragting kan ‘n kind gevangenisstraf opgelê word. Die vonnis word bepaal volgens die hof se diskresie. Marx verduidelik dat die hof verskeie faktore soos die minderjarige oortreder se ouderdom, sosiale omstandighede, asook die erns van die misdryf ens. in ag neem. ‘n Proefbeampteverslag moet ook aan die hof voorsien word ten einde hierdie faktore te oorweeg.
Jonger as 14 mag nie tronk toe nie
Artikel 77(1) van die Wet bepaal dat ‘n hof nie ‘n minderjarige oortreder onder die ouderdom van 14 jaar, gevangenisstraf mag oplê nie. ‘n Kind bo die ouderdom van 14 jaar kan egter gevangenisstraf opgelê word vir verkragting. Die gevangenisstraf mag egter nie meer as 25 jaar wees nie.
Nuwe Kinderwet
Die nuwe Kinderwet het op 1 April 2010 in werking getree. Hierdie wet skep ‘n nuwe prosedure waarvolgens kinders hanteer moet word wat met die gereg bots.
Daar is drie manier hoe die staat ‘n kind (persoon onder 18-jaar) voor die hof kan bring. Die manier wat gebruik moet word hang af van die ouderdom van die kind en die erns van die misdryf.
Drie maniere: Skriftelike waarskuwing, dagvaardiging of arrestasie is metodes wat gebruik kan word om ‘n minderjarige voor die hof te daag. Die erns van die misdryf word gemeet aan drie skedules tot die wet.
Skedule 1-misdrywe
‘n Kind mag nie vir ‘n Skedule 1-misdryf arresteer word nie tensy dwingende redes aanwesig is. Skedule 1-misdrywe is byvoorbeeld diefstal met ‘n waarde van minder as R2 500, saakbeskadiging met ‘n waarde van minder as R1 500, meineed, minagting van die hof, crimen injuria, betreding, sekshandel van persone onder 18 jaar oud, bestaliteit, vrywillige seksuele penetrasie met sekere kinders asook vrywillige seksuele misbruik van kinders, en besit van dwelms met ‘n waarde van minder as R500.
Wanneer polisie ‘n kind mag arresteer
Motiverings om ‘n minderjarige oortreder te arresteer sluit in:
- Wanneer ‘n kind nie ‘n vaste adres het nie.
- Wanneer die polisie rede het om te glo dat die kind sal aanhou om hom/haarself aan dieselfde oortreding skuldig te maak indien sy/hy nie gearresteer word nie.
- Wanneer die polisie rede het om te glo dat die kind ‘n bedreiging vir iemand anders inhou.
- Wanneer die ootreding op heterdaad betrap word.
- Wanneer die oortreding gepleeg word in omstandighede wat in die SAPS se nasionale instruksies rondom die wet, omskryf word.
Jeugsentrums eerder as aanhouding in die polisieselle word oorweeg vir minderjarige oortreders tussen die ouderdomme van 10 en 14 wat van enige misdryf aangekla is; asook vir minderjarige oortreders tussen 14 en 18 wat van ‘n Skedule 1- of 2-misdryf aangekla word.
Skedule 2-misdrywe
Skedule 2-misdrywe is ernstiger oortredinge en sluit in, diefstal met ‘n waarde bo R2 500, bedrog, roof, aanranding met die opset om ernstig te beseer, strafbare manslag, huisbraak en seksuele aanranding.
Skedule 3-misdrywe
Skedule 3 vervat die ernstigste misdrywe en hieronder val verkragting, moord, roof met verswarende omstandighede, seksuele aanranding waar ernstige beserings toegedien is, ens.
Kinders onder die ouderdom van 18 jaar oud word in aparte selle as volwassenes aangehou.
ARTIKLE: ANOESCHKA VON MECK, KNYSNA-PLETT HERALD-JOERNALIS