Daar was verseker vreugde in Die Hel toe 20 veteraantekkers en ’n ou Willy's Jeep sommer baie glimlagte aan hul eienaars en ander entoesiaste besorg het. Die Suid-Kaap Vereniging vir Veteraantrekkers se droom is bewaarheid toe hulle die historiese Gamkaskloof met sy asemrowende natuur en uitdagende pad kon aanpak.
Die veteraantrekkerspan het uit De Hoek tot in Die Hel gery. Daar is gekyk, gekuier en gelag.
Die voet van die Swartberg was die ideale stop vir ’n Saterdagoggend-ontbyt. Toe is die Swartbergpas aangedurf - ’n tog van sowat 42km, wat vir sommige langer as drie ure se ry beteken het.
By die oubekende Kurkboom op die Hel se pad is daar nie net vir 'n lafenis gestop nie - daar was 'n paar van die ou ysters wat om spesiale liefde gevra het - iets wat die spesiale trekkers immers deurlopend van hul trotse bestuurders kry.
Kliphuisvlei is gekies vir die volgende Boeretroos en beskuit-stop. Hier is die gewilligheid en vermoë van die trekgoed en hul bestuurders se deursettingsvermoë bepraat. ’n Laaste stop is by Kareekloof ingewerk, waar koeldrank en roomys nie die enigste lafenis was nie, want die drif het ’n ideale afkoelgeleentheid aangekondig.
Na ’n baie styl en soms senutergende Elandspad tot by die kampeerterrein van CapeNature is daar by Pieter en Marinette se gastehuis gekuier dat die trekkers dreun en die bestuurspanne later van lekkerkry kreun.
Die Saterdagprogram is met voetejeuk boeremusiek deur Allen Green en Freddie Rheeder afgelsuit. Hulle is deur die unieke inset en styl van Basjan bygestaan.
Sondagoggend se bediening en lofprysing is deur Basjan hanteer. Na 'n heerlike plaasontbyt het almal museum toe gery en ook twee trekkers saamgevat om die ander te kom vertel wat nou eintlik met ou goeters gebeur as hulle nie gelief en vertroetel word nie.
Die grondeienaar. Pieter Joubert het die geskiedenis van die Gamkaskloof-vallei met almal gedeel. Daar is heerlik gekuier en Sondagaand was daar ’n prysuitdeling en -trekking vir die gelukkiges.
Die geleentheid was ook ’n fondsinsameling vir die Môreson Kinderhuis in George. Enige navrae of verdere bydraes kan aan Pieter of Marinette op 023 541 1107 gerig word.
.jpg)
Hier is die groep entoesiastiese veteraantrekker-eienaars uit die Suid-Kaap en hul metgeselle nadat hulle die styl en senutergende tog na die Die Hel aangepak het. Foto: Peta Barnard Photography (Peta & Martin)