LANDBOU NUUS - Die Nasionale Wolkwekersvereniging van Suid-Afrika (NWSA) het 'n ernstige beroep op boere gedoen om dadelik bestellings vir slenkdalentstof by hul koöperasies te plaas nadat 250 skape uit 'n trop van 600 in April aan die siekte dood is op 'n plaas naby Jacobsdal.
"Hulle moet nou bestel sodat Onderstepoort Biologiese Produkte 'n aanduiding kan kry van die behoefte aan entsof en gevolglik betyds voldoende entstof kan vervaardig. Veeartse maan dat slenkdalkoorsuitbrekings in die komende seisoen verwag kan word," sê die Wolkwekersvereniging se hoofbestuurder, Leon de Beer, in 'n verklaring wat op Dinsdag 19 Junie uitgereik is.
Die geval naby Jacobsdal is die eerste uitbreking van slenkdalkoors sedert 2011.
George se staatsveearts, dr. Edwin Dyason, het by navraag gesê hy beveel boere in die Eden-gebied aan om hulle diere daarteen in te ent, en ook teen ander lentesiektes soos knopvelsiekte en drie-dae-stywesiekte.
"Baie boere is optimisties of die ekonomie druk en hulle bestel nie entstof nie. Onderstepoort produseer dit dan nie. Wanneer hierdie siektes uitbreek, gebeur dit soos 'n ontploffing, maar dan is dit te laat. Dit neem 'n paar maande om entstof te vervaardig. Dit is goedkoper om in te ent as om 'n uitbreking te hanteer. Dis net goeie praktyk."
Hierdie siektes word deur insekte oorgedra en kom gewoonlik in die lente voor.
Knopvelsiekte en drie-dae-stywesiekte, wat beeste aantas, lei tot groot ekonomiese verliese. Volgens De Beer toon statistiek van Cape Wools SA dat wolverliese weens slenkdalkoors tydens vorige uitbrekings tussen 2010 en 2012 ongeveer R750 miljoen bedra het.
"Indien vleisinkomste ook in aanmerking geneem word, is dit 'n astronomiese verlies van R2,253 miljard."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'