Die nuwe maatskappy Zaad wat voortgespruit het uit die samesmelting van PSG se Zeder-maatskappy en KKSB, is ook bekendgestel.
Lomo Janse van Rensburg, besturende direkteur van KKSB, het die geskiedenis van die maatskappy wat groentesaad bemark sedert die ontstaan 11 jaar gelede geskets, van die nederige begin in die geboutjie waar Ostrimed nou is, tot by die perseel waar Kango Wyne vroeër besigheid gedoen het. Sedertdien het die maatskappy besighede landwyd en in altesaam 68 lande in Afrika, Europa en die Midde Ooste geskep wat werk verskaf aan 405 mense.
“Ons doelwit is om binne vyf jaar saam met Zeder ‘n omset van R1 miljard en ‘n wins van R75 miljoen te behaal.”
Antonie Jacobs, besturende direkteur van Zaad, wat in 2012 in die lewe geroep is na samesmelting met Zeder, het gesê Zaad met sy gediversifiseerde produkreeks, is die suksesvolste saadgroep in Afrika. “Dit was die duurste transaksie nog vir Zeder, maar ons het ‘n juweel gekoop.”
Norman Celliers, besturende direkteur van die groter Zeder Groep, het PSG en Zeder bekend gestel. “PSG belê in groeiende en rewolusionêre besighede, en ons wil die maatskappy bou, nie tot niet maak nie. Hierdie is nie ‘n korttermynbelegging nie. Ons hou van maatskappye wat groei en bestuursplanne wat positief is.”
Zeder het in 2004 van ‘n koöperatief na ‘n maatskappy wat tans 18 000 personeellede het, verander met die doel om in landbou – in voedsel en drank - te belê. “Die saadbedryf as ‘n groeisektor het ‘n bewese rekord. Maatskappye moet fokus op die uitvoering van take en moet iets wen.”
Volgens Celliers bied Afrika enorme en aantreklike groeigeleenthede en sal in die volgende 25 tot 50 jaar die wêreld voed. Zaad is perfek geposisioneer om hierdie geleenthede te benut.
“Dit is ‘n prestasie dat ons die vermoë gehad het om so ‘n goeie transaksie met Zeder te doen,” het Johan Stumpf, uitvoerende bestuurder van Klein Karoo Internasionaal (KKI), gesê.
Stumpf het die sowat 260 gaste – produsente, werknemers van die maatskappye en ander rolspelers in die bedryf - genooi om te smul aan drie volstruise wat maar vir die tweede keer ter wêreld op ‘n besondere manier gaargemaak is: die heel volstruise is met ‘n dik laag modder bedek voordat dit in vuurputte gebak is.

Sprekers tydens die bekendstelling van Klein Karoo Saadbemarking se nuwe hoofkantoor in Van der Rietstraat op Oudtshoorn en die maatskappy Zaad is van links Rob Bakker (Bakker Broers, Nederland, Piet Kleyn (Klein Karoo Groep), Antonie Jacobs (Zaad), Lomo Janse van Rensburg (KKSB), Norman CElliers (Zeder) en Johan Stumpf (KKI). Foto: Tisha Steyn
ARTIKEL: TISHA STEYN