GEORGE NUUS - Deelnemers aan die Rondomtalie-toer vertrek môre, Vrydag 10 Februarie, van Klaarstroom na George op die laaste skof van die toer.
Hulle ry saam met deelnemers aan die Vet Tour wat in George eindig waar die George-oumotorskou Saterdag en Sondag plaasvind.
Die eerste groep het reeds verlede Vrydag, 3 Februarie, uit George vertrek. Groot opgewondenheid het geheers toe die groep van drie veteraanmotors vertrek het. Hulle het later by nog 'n groep in Groot-Brakrivier aangesluit.
Vandaar het hulle koers gekies na Bredasdorp en onder meer Kaapstad, Slanghoek en Barrydale aangedoen.
Die drie motors wat uit George vertrek het is 'n 1931 Model A Ford Roadster, 'n 1926 Model T Ford en 'n 1915 Model T Ford.
Die drie veteraanmotors wat verlede Vrydag uit George vertrek het. Foto: Eugene Gunning
Aanvanklik het sewe motors weggespring, maar soos die toer gevorder het, het nog deelnemers aangesluit.
Na verwagting sal 22 motors en twee motorfietse die laaste skof aandurf. Hulle behoort Vrydag omstreeks 14:00 by die Apprentice by die Francois Ferreira Academy te wees en mense is welkom om hulle in te wag. In totaal sal hulle sowat 1 500 km aflê.
Philip Kuschke wat saamry het Dinsdag gesê alles verloop goed. "Ons is die Here baie dankbaar. Daar was teen Dinsdag nie enige teëspoed nie. Daar was wel die gewone roetine onderhoud soos 'n pap band en hier en daar bietjie olie ingooi. Die deelnemers geniet dit baie en daar is 'n goeie gees."
Philip Kuschke draai die slinger van sy 1915 Model T Ford om die enjin aan die gang te kry. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'