ATKV- Muziq is ‘n 12 jaar-oue instrumentale klassiekemusiekkompetisie, en ATKV- Muziqanto, ‘n nasionale klassiekesangkompetisie, lewer sedert 2011 ‘n belangrike bydrae tot die stimulering en bevordering van sang in Suid-Afrika. RSG is weer die mediavennoot van hierdie twee klassiekemusiekkompetisies.
Die eerste ronde van beide hierdie kompetisies vind binnekort, vanaf 13 - 25 Mei, plaas. Deelname aan die instrumentale kategorieë is beperk tot jong volwasse musici in die ouderdomsgroep 15 tot 27 jaar, ouderdom soos bereken op 31 Desember 2013. Sangers tussen die ouderdom van 18 en 35 jaar inklusief, kan aan Muziqanto deelneem.
Muziq-deelnemers kan in die volgende instrumentale kategorieë inskryf:
• Klavier
• Orrel (sluit ook klavesimbel in)
• Strykers
• Houtblaasinstrumente
• Koperblaasinstrumente
• Ander Instrumente (sluit harp, slaginstrumente, klassieke kitaar, akkordeon
en blokfluit in)
• Kamermusiek-ensemble (vokale ensembles ingesluit)
Die minimum vereiste vir deelname aan beide kompetisies is UNISA (Prakties) Graad 6 of enige gelykwaardige kwalifikasie aan ‘n soortgelyke instelling, tensy anders met die projekorganiseerder ooreengekom.
Georgiete kan op 14 Mei in Port Elizabeth of op 15 tot 18 Mei in Stellenbosch of Kaapstad aan die eerste rondte-beoordeling gaan deelneem.
Kandidate wat weens een of ander rede nie die eerste ronde kan bywoon nie, kan by die projekorganiseerder aansoek doen om ‘n DVD-opname vir die eerste ronde-beoordeling in te stuur.
Die tweede en finale rondes van ATKV-Muziqanto vind plaas tydens Klein Karoo Klassique in Oudtshoorn op 9 en 10 Augustus. Tydens die finale ronde wat deel is van die
Mimi Coertse Gala-konsert sal die finaliste saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes optree. ATKV-Muziq se tweede en finale rondes vind plaas van 5 tot 7 September in die Odeion by die Universiteit van die Vrystaat.
Instrumentale kategoriepryse ter waarde van R9 000 elk, sowel as addisionele pryse ter waarde van R6 000 elk vir die beste vertolking van ‘n Suid-Afrikaanse werk (tydens die tweede ronde) en die beste vertolking van ‘n Barok- of Klassieke werk (tydens die finale ronde)), is ook op die spel by die Muziq-kompetisie. Die algehele wenner van Muziq ontvang R45 000.
Muziqanto-deelnemers kom in aanmerking vir die volgende pryse:
- Prys vir die beste vertolking van ‘n Suid-Afrikaanse werk tydens die tweede ronde: R3 000
- Algehele Derde Prys: R7 000
- Algehele Tweede Prys: R15 000
- Die algehele wenner van Muziqanto ontvang R35 000.
Navrae: Ilse Schürmann (projekorganiseerder) - 082 851 7157.