Gallery
KNYSNA NUUS - Eden Hengel se senior mansspan het onlangs skoonskip gemaak by die SA Rots-en-Strand-hengelkampioenskap, met 'n hengelaar vanuit Knysna wat aan die einde as algehele wenner bekroon is.
Die span bestaan uit hengelaars van Stilbaai, Mosselbaai, George, Knysna en Plettenbergbaai, en het vanaf 26 Februarie tot 2 Maart deelgeneem aan die kampioenskap te Jeffryesbaai.
Tydens die kompetisie het 12 afsonderlike provinsiale spanne deelgeneem.
Oortuigende seëtog
Volgens Eden Hengel se mediabeampte Banie Vermeulen het die plaaslike span met oortuiging die goue medalje verower tydens die geleentheid en met 300.16 punte bo die res gewen.
"Renier Nortje van Knysna-hengelklub het uitmuntend presteer tydens die geleentheid en was die algehele wenner. Hy is ook gekies om die Protea-span te verteenwoordig in Namibië later vanjaar," het Vermeulen gesê.
Hy het bygevoeg dat bewaring bevorder word tydens kampioenskappe deurdat alle visse lewendig teruggeplaas word, en dat die inligting wat versamel word gebruik word vir navorsingsdoeleindes.
Uitslae: Eden 1 470.46; Westelike Provinsie 1 170.30; Grens 1 094.53; Oostelike Provinsie 1 088.97; Zululand 1 041.21; Mpumalanga 904.44; Vrystaat 874.39; Kwa-Zulu Natal 864.32; Wes Kus 790.00; Gauteng Noord 745.48; Sentraal Gauteng 667.75; en Boland 654.08
Hier is die Eden Hengel senior mansspan wat in Jeffreysbaai bobaas was: (agter van links) Henrich Coertze en Cornel Grundling, (middel) Niel de Jager, Dirkie Saayman, Carlo Erasmus, Matthew Sumner, AJ de Beer, Henrico Lesch, Rigard Lesch en Clive Syfers, (voor) Floris Marais, Renier Nortje, Raldo Potgieter, Steve Danny en Willie Welman. Foto's: Verskaf
Somerliga
Buiten hul uitmuntende prestasie op nasionale vlak, moes hengelaars onder die Eden-vaandel die naweek van 10 Maart teen mekaar kompeteer tydens die assosiasie se sewende somerliga kompetisie te Boggomsbaai.
Volgens Vermeulen was dit Stilbaai-hengelklub wat die beste gevaar het, met 393.50 punte.
Die tophengelaar van die dag was Raldo Potgieter van Stilbaai en Knysna-hengelaar Kallie Erasmus was die topmeester.
Die volgende kompetisie vind te Stilbaai plaas op 24 Maart.
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'