SEDGEFIELD - Die Pick n Pay Sedgefield Eagle Stars se A-span het die afgelope Saterdag vir Riversdale-rugbyklub in 'n naelbytstryd by die Steg-stadion in Riversdal geklop.
Beide spanne het 'n intense vertoning gelewer, met die voorsprong wat verskeie kere van kant verwissel het. Riversdal het tot in die laaste minute hard teruggeveg, maar Eagle Stars het in die slotfase kalm gebly om die oorwinning te verseker.
Die wendrie het in die 77ste minuut gekom toe die veteraan Elrich Grootboom, wat deesdae as losvoorspeler speel, oor die doellyn is om die dramatiese sege te beklink.
Ander driedrukkers vir Eagle Stars was Ru-Charn Petersen (vleuel), Jayron Jantjies (slot) en Diaan Godfrey (vleuel). Binnesenter Gershwin Dirk het een van twee doelskoppe oorgeskop.
Die jong talent Adrian Konstable, wat as plaasvervanger op die veld gekom en op heelagter ingeskuif het, het 'n groot rol in die span se terugvegpoging gespeel. Hy het twee drieë verdoel en twee strafskoppe oorgeskop om sy 2026-seisoen met 'n 100%-skoprekord af te skop.
B-span oorheers
Die Sedgefield Eagle Stars A2-span het ook hul ligaveldtog sterk begin met 'n oortuigende 28-8 oorwinning oor hul eweknieë van Riversdal.
Die besoekers het vroeg hul aanvallende krag gewys toe Junaid Ruiters die eerste drie van die wedstryd druk. Gregory Galant het daarna nog 'n drie bygevoeg, terwyl Jesse Lottering die derde drie afgerond het om die voorsprong verder te vergroot.
Chesco Julies het twee drieë verdoel en ook twee strafskoppe oorgeskop om die druk op die tuisspan te behou.
Die speler van die wedstryd was Percy Motjoana.
Eagles se volgende wedstryd is eerskomende Saterdag teen Albertinia Rangers.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’