RUGBYNUUS - Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (SARU) is besig om die kleiner plattelandse spanne lelik in die steek te laat met onbeholpe administratiewe voetfoute.
Die Arende van die Suidwestelike Distrikte (SWD) moes gister op die laaste nipper hoor die halfeindstryd in die Mzansi-liga teen die Boland Kavaliers is uitgestel.
Volgens SARU se riglyne moes dié wedstryd môre op Outeniqua Park afgehandel word, maar daar is nou selfs verdere onsekerheid of dit aanstaande week sal gebeur.
Dié wedstryd was klaar in omstredenheid gedompel omdat daar onsekerheid was wie vir die halfeindstryde gekwalifiseer het. Verskillende riglyne is blykbaar gevolg met die toekenning van punte met laat onttrekkings van veral die spanne van Zimbabwe en Kenia en dit het van die begin groot probleme veroorsaak. Daar was nooit enigheid of punte verbeur of toegeken sou word nie en dit is op 'n baie lukrake manier hanteer.
Boonop is die SWD deur SARU voorgeskryf wanneer om die wedstryd te speel terwyl die Arende geldige redes het hoekom hulle hul tuiswedstryde op 'n Vrydagaand gespeel wil hê en nie op Saterdagmiddae nie. Dit alles het daartoe aanleiding gegee dat die bestuur van die SWD dit nou tot 'n dispuut verklaar het en daar word nou op die president van SARU, Mark Alexander, gewag om antwoorde te verskaf.
Wat die speel van wedstryde op Vrydagaande betref, het Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, verduidelik: "Al ons tuiswedstryde vanjaar was op Vrydagaande. Ons deel die veld met 'n klubspan en daar is normaalweg klubwedstryde geskeduleer vir Saterdae. Die SWD het 'n baie sterk en 'n groot ondersteunende klubkultuur en dis waarom ons ons tuiswedstryde op 'n Vrydagaand gewoonlik afhandel. Dit skep ruimte vir beide die unie asook die klub om binne hul eie raamwerke maksimaal te funksioneeer," het hy gesê.
Dat daar ernstige tekortkominge is in die aanbied en nakoming van reëls en ongetoetste regulasies in kompetisies vir spanne buiten die groot vyf, moet direk voor die deur van SARU gelê word. Dit is asof daar met oogklappe gekyk word na unies wie se name nie Stormers, Bulls, Sharks, Lions en Cheetahs is nie. Die res is bysaak. Selfs spanne soos die Griekwas, Pumas en Griffons, wat saam met die groot honde in die Curriebeker-reeks mee moet saamgesels, kry dit hotagter.
Wat die Eerste Liga én Mzansi-beker betref en waar spanne soos die Arende, die Kavaliers, Valke, Luiperds, die OP Olifante en die Grens Bulldogs in meeding, is duidelik nie 'n groot prioriteit vir SARU nie.
Met die jongste rondvallery beteken dit nou ook dat die Arende teen volgende naweek, as die probleme wel uitgestryk is, dan vir drie weke in 'n ry geen wedstryde gespeel het nie. Kwalik 'n manier om spelers gefokus te hou op 'n kompetisie.
Met die Valke, wat ook die afgelope naweek hulle laaste Curriebeker Eerste Liga-wedstryd oortuigend teen die Luiperds gewen het, het dit ook die Arende se laaste kans om vir dié liga se eindstryd te kwalifiseer, in die wiele gery. "Dit sou 'n bonus gewees het indien ons daarvoor kon kwalifseer, maar nou moet ons die beste van die saak maak teen die Boland in die Mzansi-reeks," het Moolman gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’