RUGBY NUUS - Dit is Groot-Brak teen Blanco en Heidelberg teen Bridgton in die SWD Superliga A halfeindstryd op Saterdag 7 September. Dit is die eerste keer in meer as 'n dekade wat Blanco en Bridgton in 'n halfeindstryd speel en beide spanne se afrigters sê hulle is reg.
"Dit is vir Blanco 'n absolute voorreg en eer om vir die eerste keer in omtrent 12 jaar, weer in 'n halfeindstryd te kan speel.
"Die gemeenskap gons behoorlik en daar heers groot opgewondenheid onder die spelers en ondersteuners," sê Christo du Plessis, hoofafrigter van Blanco.
"Bridgton het 11 jaar gelede vir 'n halfeindstryd gekwalifiseer so hierdie is uitstekend vir ons.
"Ons glo nie dit sal hier eindig nie, want ons wil graag in die eindstryd speel," sê Eddie Myners, Bridgton se hoofafrigter.
Rakende hul wedstryd teen Groot-Brak sê Du Plessis hulle is slaggereed vir die wedstryd.
Hul laaste wedstryd teen Groot-Brak het Blanco net-net met 26 - 29 verloor, maar volgens Du Plessis het hulle goeie lesse geleer wat hulle baie gaan help.
"In 'n uitspeelwedstryd is die speelveld gelyk en vorige prestasies beteken nie veel nie. Die span is honger om mekaar en die gemeenskap trots te maak," sê hy.
Oor hul wedstryd die naweek teen Heidelberg sê Myners dit is 'n belangrike wedstryd vir Bridgton waarvoor hulle al lank wag.
"Om Heidelberg in Heidelberg aan te pak is altyd 'n harde wedstryd. Ons benader die wedstryd asof dit 'n eindstryd is.
"Ons gaan alles gee wat ons kan, het goed voorberei gedurende die week en ons huiswerk is gedoen. 'n Wen is al waarvoor ons mik," sê Myners.
Die voorspelerafrigter van Heidelberg, Fernell Pretorius, sê dit is vir hulle 'n groot voorreg om tuis te kan speel en hulle hoop om hul ondersteuners trots te maak.
"Dit is altyd vir ons lekker om voor ons eie mense te speel want aan die einde van die dag is dit die mense wat ons dra.
"Ons weet dit gaan nie maklik wees nie, maar ons is gereed en ons glo dat ons tuisvoordeel ons gaan help om die wa deur die drif te trek," sê hy.
"Vir Bridgton moet 'n man altyd oor-versigtig wees want dit is 'n span wat teen 'n hoë tempo speel en ons berei voor vir dit," sê Pretorius.
Alhoewel Heidelberg beide hul wedstryde in die liga teen Bridgton gewen het sê Pretorius niks van daardie telling nie want Saterdag is 'n nuwe wedstryd en enigiets kan gebeur.
George Herald het Groot-Brak om kommentaar genader, maar het teen druktyd niks ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’