GEORGE NUUS - Die vele uitdagings en ook hoogtepunte van rugby in die streek gedurende die jaar is Saterdag 25 November tydens die 30ste algemene jaarvergadering van SWD-rugby in die kollig geplaas.
Onder die uitdagings is die lang seisoen vir klubs, die toelating van nuwe klubs en ook die verdeling van velde vir rugby en krieket.
Die vergadering is by Eagles Nest Ministeries gehou en beurtkrag het kort na die begin daarvan inwerking getree. By tye was dit sterk skemer in die saal en 'n mikrofoon kon nie gebruik word nie. Dit het egter nie aanwesiges verhoed om deel te neem aan die vergadering nie. Dit is deur 72 stemgeregtigdes bygewoon wat lede van die uitvoerende bestuur ingesluit het.
Verteenwoordigers van 65 stemgeregtigde klubs vanoor die streek was teenwoordig.
Ben Brinkuis, president van SWD-rugby het in sy jaarverslag die Springbokke gelukgewens met hul onlangse oorwinning in die wêreldbekertoernooi.
Hy het gesê dis die eerste keer in SWD se geskiedenis dat klubrugby tot in November aangehou het. Die verdeling van die velde vir die verskillende kodes (rugby en krieket) is 'n uitdaging en die aangeleentheid is al met SWD-krieket bespreek.
Volgens Brinkhuis is dit die eerste keer in baie jare dat die beker in die Superliga nie in George staan nie. Hy het die wenners van die onderskeie afdelings gelukgewens.
Die SWD Arende het nieteenstaande vele uitdagings daarin geslaag om te presteer. Die span het in die finaal van die Mzanzi-beker gespeel en derde klaargemaak in die eerste divisie van die Curriebekereeks.
Hy het benadruk dat die Arende se sukses almal in die streek se sukses is. Hy het almal in die streek gevra om die span te ondersteun.
Brinkhuis het ook verwys na die aanbieding van die o. 18 Cravenweek op Outeniquapark in Julie en dit as 'n uitsonderlike geleentheid beskryf.
Hy het die skeidsregters bedank wat hulle goed van hul taak gekwyt het.
Brinkhuis het ook al die belanghebbendes, insluitende die personeel van die unie, bedank vir hul harde werk die jaar.
Na die vergadering het hy aan George Herald gesê in die geheel gesien is hy tevrede met die verloop van die seisoen. Hy het aangedui dat die unie steeds in gesprek is met SA Rugby oor die omstredenheid rondom die Mzanzi-finaal in Junie.
SWD voel hy is te nagekom. Die finaal moes op Outeniquapark plaasgevind het. Die unie moes uiteindelik meer as R200 000 bestee om in 'n wegwedstryd in Junie teen die Valke in die finaal in Kempton Park te gaan speel. Wat SWD betref is die Arende beroof van 'n tuiseindstryd.
Die Arende het eers die Dinsdag voor die eindstryd op die Saterdag gehoor dit is 'n wegwedstryd.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’