RUGBYNUUS - Shamrocks RVK van Buisplaas het die afgelope naweek 'n tuisveld-oorwinning in die SWD kusstreek-kompetisie behaal toe hulle vir Sibanye Kings van Plettenbergbaai in die kwarteindronde geklop het.
Beide spanne was goed voorberei en het die beste voet voorgesit in die wedstryd wat Saterdag, 6 Augustus plaasgevind het.
Sibanye Kings het vanaf die begin gewys dat hulle nie verniet so ver getoer het net om op te daag nie. Shamrocks het egter ander planne gehad en eerste punte aangeteken met 'n skepdoel deur Ryan Buis, 'n drie deur Aldeno Jantjies en drie doelskoppe deur Lezandro Bredenkamp om halftyd met 16-10 voor te loop.
Die tweede helfte het met dieselfde hoë intensiteit as die eerste helfte begin met die voorspelers wat mekaar fisies voorlangs aangevat en die agterlyne wat mekaar met goeie voetwerk en spoed uitoorlê het. Shamrocks het die oorhand gehad en daarin geslaag om nog twee drieë aan te teken.
Fernald October en Renaldo Adams het beide agter die doellyn gaan kuier om aan Shamrocks 'n 28-24 oorwinning te besorg en daarmee aan hulle 'n plek in die semi-finaal te verseker.
Shamrocks se span en afrigters bedank hul borge vir hul opwarmings T-hemde en twee rugbyballe.
Enige persoon of instansie wat met die klub in kontak wil kom vir borgskappe of skenkings van rugbytoerusting kan die voorsitter, Hiran Tarentaal kontak by 063 333 5097 of e-pos na shamrocksrvk@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'