KNYSNA NUUS - Dis nie aldag dat 'n rugbyspan van Suid-Amerika teen 'n plaaslike klub kom speel nie, maar Loeriepark het verlede naweek presies dit beleef toe Prince of Wales van Chili teen Knysna United uitgedraf het.
United se B-span het goeie rekenskap gegee en in 'n spannende stryd met 21-21 gelykop gespeel, terwyl die A-span 'n moeiliker aand gehad het en uiteindelik met 20-43 teen die Chileense span verloor het.
Afrigter Desmond van Rooyen het gesê dat hierdie wedstryde 'n geleentheid was om sekere spelers se vaardighede teen 'n internasionale teenstander te toets en om nuwe kombinasies op die veld uit te probeer.
Hy het ook groot lof gehad vir die oorsese spelers se algehele spel, kondisionering en dissipline.
"Ons seisoen het nou eers begin, so dit was 'n fantastiese voorbereiding. Daar is sprake dat hulle weer Suid-Afrika toe sal kom, maar niks is nog gefinaliseer nie," het Van Rooyen gesê.
Knysna United se volgende wedstryd is eerskomende Saterdag teen die All Blacks in Oudtshoorn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’