WITTEDRIFT NUUS - Hoërskool Wittedrift se jaarlikse Loeriefees het die afgelope Saterdag weer hope opwinding, strawwe kompetisie en uitstekende sportmangees opgelewer toe 17 hoërskole met 1 270 leerders uit die Tuinroete by die skool saamgetrek het.
Leerders het mekaar op die sportveld die stryd aangesê tydens die dag van energieke deelname en geesdriftige ondersteuning van spanmaats en toeskouers.
Die skoolhoof, Jeremy Marallich, sê die Loeriefees speel 'n belangrike rol om sport en samewerking tussen skole in die streek te bevorder.
"Dis wonderlik vir die kinders om so vroeg in die seisoen aan wedstryde deel te neem waar hulle nie regtig onder druk is nie. Almal het sopas begin oefen en vir almal is dit 'n leerskool en 'n dag om te geniet saam met jou eie span en die maats van die ander skole. Dit bied ook aan afrigters die kans om te kyk na verskillende kombinasies en te beplan vir die seisoen wat voorlê."
Hy voeg by dat die fees oor die jare tot 'n hoogtepunt op die skool se kalender gegroei het en dat dit vir leerders 'n geleentheid bied om hul sportvernuf te wys.
"Veral die leerlinge wat nou al meer as een keer 'n Loeriedag bygewoon het, speel in 'n gees van mededingenheid, maar hulle put ook genot uit die spel. Dit laat 'n mens se hart goed klop as jy sien hoe opreg kinders na die wedstryd dankie sê en mekaar gelukwens."
Marallich het ook erkenning gegee aan die personeel, ouers en ondersteuners wat gehelp het om die dag suksesvol aan te bied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’