KNYSNA NUUS - 'n Drieëfees die afgelope Saterdag op Loerie Park in Knysna het Knysna United gehelp om die besoekende Albertinia Rangers se oorheersing in die eerste helfte om te keer en in 'n sterk oorwinning te omskep.
Knysna United, wat teen rustyd met 5 - 15 agter was, het die krane in die tweede helfte behoorlik oopgedraai en nog vyf drieë ingeryg vir 'n oorwinning met 41 - 18.
Die tuisspan het altesaam ses drieë gedruk met Jumeal Arends wat vier doelskoppe oorgeklits het en ook met 'n strafskop geslaag het vir 'n bydrae van 11 punte.
Albertinia het vir 'n groot deel van die eerste helfte die pas aangegee en die tuisspan behoorlik in sy kwartgebied vasgepen. Die besoekers het ook Knysna se doellyn met aanvalle gepeper en vir 'n wyle het die tuisspan se verdedigers daarin geslaag om die besoekers uit sy doelgebied te hou.
In die tweede helfte het Knysna as't ware wakker geskrik en met puik aanvallende rugby die agterstand ingehaal en gemaklik verbygesteek.
Knysna United se driedrukkers was Nouredidnne Filander, Heindricht Mowers, Zukhanyise Sampo, Ruzane Stroebel, Sipho Buzani en Eurecian Daniels.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’