KNYSNA NUUS - As jy die Lotto wil wen, moet jy 'n kaartjie koop, anders sit jy week op week met dieselfde hol gevoel op jou maag en wonder: Ai, wat as...?
Dit is waarskynlik die benadering wat Knysna United se B-span verlede Saterdag op 'n yl bevolkte Outeniqua-stadion in hul agterkoppe gehad het toe hulle 'n gemotiveerde Uniondale in letterlik die laaste minuut van hul SWD- Eerste liga A-eindstryd met 25 - 20 geklop het.
Vir hul oorwining het United R4 500 in die sak gesteek.
Drieë sonder doelskoppe
United het vyf drieë gedruk, maar kon nie een daarvan verdoel nie. Sonder om hul skoppers te veel te kritiseer, moet dit genoem word dat die skote beslis binne bereik was.
As jou skoppers die dag heeltemal die kluts kwyt is, is daar net een manier om 'n wedstryd te wen: drieë.
Selfs strafskoppe binne trefafstand was 'n dobbelspel, want jy waag dit om waardevolle balbesit af te staan.
Dit was dus geen verrassing dat United van die begin af sjampanjehardloop-rugby gespeel het nie, met die uitsluitlike doel om drieë te druk, aangesien dit hul enigste betroubare bron van punte was.
Voorspelers kom partytjie toe
Vir hierdie plan om te werk het jy fikse en fisieke voorspelers nodig wat die voordeellyn met gemak kan oorsteek sodat jou agterspelers kan gedy met voorvoetbal.
En dis net hier waar United se pak voorspelers na die partytjie toe gekom het!
Met hul vuurvreteragste-man aan die voorpunt het hulle amok gesaai in die kontaksituasies en by die afbreekpunte het hulle gereeld 'n oorlas van hulself gemaak.
Maar kom ons begin by die begin.
Eerste helfte
In die eerste helfte was dit duidelik dat United sake in die skrums en lynstane dikteer, maar dit was veral met hul rolmaalbewegings waar hulle beïndruk het.
Binne die eerste 15 minute het hulle twee gulde geleenthede om 'n drie te druk verspeel, en dit deur bottervingers.
Ongedwonge hanteringsfoute het gereeld hul kop uitgesteek en belowende bewegings tot in niks laat ontaard, anders sou die telling veel groter gelyk het.
Uniondale se dekverdediging, daarenteen, was sterk en hul teenaanvalle dodelik: hulle het twee onbeantwoorde drieë (onverdoeld) in die eerste helfte gedruk.
Telling, eerste helfte: 10 - 0
Tweede helfte
Met die aanvang van die tweede helfte het United kliphard teruggeslaan en oorgeseil vir drie drieë (onverdoeld) wat hulle eensklaps die voortou in die wedstryd besorg het. Telling: 15 - 10.
Kort daarna is United egter vir ongeoorloofde spel binne hul eie helfte gestraf, en Uniondale het die strafskop met gemak oorgeklits. Telling: 15 - 13.
In die laaste 20 minute het Uniondale gedreig om die wedstryd by die kraag te gryp toe hulle skitterend deur die middelveld gebreek het om agter die pale te gaan kuier.
Vincent Arends was 'n handvol op die verdediging.
Die doelskop was suiwer deur die pale en die paar toekouers wat al die pad van Uniondale hul span kom ondersteun het se eggo's het deur die stadium weergalm.
Telling: 20 - 15
United het hulself weer opgelig na volgehoue fasespel om te gaan druk en kon met die verdoeling waardevolle telborddruk op United plaas, maar die skop was mis.
Dit het die telling op 20 - 20 te staan gebring, met Uniondale wat in die laaste minuut balbesit bewerkstellig het.
20 fases en 'n laaste drie
Die rugbygode het op United geglimlag toe Umiondale se speler nie die bal in verdediging vrygestel het nie, en 'n strafskop is aan die manne in blou toegeken.
Agsteman Dehan Maritz was die spil waarom United se pak gedraai het. Foto's: Wyndham Ewerts
United het toe van sy eie helfte af al die pad tot op Uniondale se doellyn gevorder, waar hy na sowat 20 fases uiteindelik vir 'n drie feitlik onder die pale deurgebars het.
Met speeltyd verstreke en die verdoeling slegs van akademiese waarde het United van skopper verander, maar selfs die nuwe skopper se poging is deur 'n verdediger afgehardloop.
Dit het nie saak gemaak nie, want teen daardie tyd het die spelers en die ondersteuners alreeds die vreugdevure aan die brand gesteek.
Groot dinge op pad
United se afrigter, Desmond van Rooyen, was dit eens dat sy span koelkop onder druk gebly het en het gesê dat hierdie oorwinning wys dat hulle klub 'n opwaartse kurwe toon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’