TUINROETE RUGBYNUUS - Ofskoon 'n meerderheidsbesluit tydens 'n voorsittersforum van die SWD-rugbyunie verlede Donderdag, 8 April, geneem is dat klubrugby nie hervat sal word tot verdere kennisgewing nie, is daar wel diegene wat wil hê klubs moet weer begin speel.
Die weg is reeds op nasionale vlak gebaan dat klubrugby kan plaasvind, maar met streng vereistes soos onder meer geen toeskouers.
Hennie Baartman, president van die unie, het na die vergadering gesê alle klubrugby vir die 2021-seisoen is voorlopig opgeskort. Hy sê die klubs het die besluit geneem.
Verteenwoordigers van verskeie klubs het die week aan George Herald bevestig dat hulle die besluit van die SWD-rugbyunie steun, maar minstens een klub, George-rugbyklub, het Maandag by monde van sy president, Jacques van Reenen, aangedui dat hulle dit nie steun nie.
Volgens hom is daar ander klubs wat dieselfde voel en ook ten gunste is van vriendskaplike wedstryde. "Hoekom kan die klubs wat wil speel, nie toegelaat word nie?" wou hy weet.
"Ons bevraagteken nie die unie se gesag nie. Ons wil net toegelaat word om rugby te speel."
Hy het gesê rugby het 'n groot impak op gemeenskappe. "Rugby bied groot verligting en afleiding. Die fisiese sowel as die emosionele voordeel moet nie onderskat word nie. Met die besluit word mense van die geleentheid ontneem om te kan speel."
Pieter van Rens-burg, voorsitter van die Jaguars in Plettenbergbaai, het gesê hulle berus by die unie se besluit. Daar is 'n risiko om nou te speel.
Hulle wil wel graag hê rugby moet aan die gang kom. Miskien moet oorweeg word om te kyk na wyses hoe dit kan gebeur.
Randall Geduld, president van Progress in George, het gesê hy dink nie daar is enige klub in die SWD wat dit kan bekostig om al die protokolle na te kom nie. As wedstryde plaasvind, sal dit ook 'n gesondheidsrisiko wees.
Gesondheidsrisiko te groot - Randall Geduld, president van George-klub, Progress.
Norman October, voorsitter van die Karoo-streek klubs, het gesê dit was 'n wyse besluit. Dit gaan oor mense se gesondheid.
Havean Meyer, tesourier van Groot-Brakrivier-rugbyklub, het gesê van die spelers kan die virus by wedstryde opdoen en dan word dit verder versprei. In hulle gemeenskap is baie van die spelers die enigste broodwinner. "As hulle nie kan werk nie sal dit families raak. Vir ons gaan dit oor die langtermyn aspek van die situasie."
Norman Cupido, ondervoorsitter van die unie se kusstreekliga, het gesê buiten die gesondheidsgevare is daar ook astronomiese kostes wat nagekom sal moet word. Dit gaan ook moeilik wees om toeskouers by wedstryde weg te hou.
Vernon Seconds, president van Barbarians in Mosselbaai, het gesê al die klubs wil speel, maar mens moet realisties wees. 'n Groot bron van kommer is 'n moontlike derde vlaag van die pandemie. Mense se lewens kan nie in gevaar gestel word nie.
Dawid Kamfer, 'n voormalige sportadministrateur van Mosselbaai, wat voorheen by rugby betrokke was, het gesê dit moet nie heeltemal van die baan gevee word nie. "As die situasie verbeter, behoort dit weer oorweeg te word."
Kom ons speel! - George-rugbyklub se president, Jacques van Reenen.
Vorige artikel: Geen klubrugby tot verdere kennisgewing
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'