GEORGE NUUS - Die SWD-rugbyunie se 24 spanne in die drie verskillende uitdaagkompetisies hervat dié naweek hul groot trapmekaar, maar die opwindendste en mededingendste rugby sal seker in die Top 8-kompetisie gespeel word.
Dis veral die vyf voorste spanne wat die pas aangee in die Top 8-kompetisie, veral wat hul posisies op die puntelys betref, wat Saterdag swaar sal dra aan die verwagtinge wat hulle self geskep het.
Na hul welslae in die Superliga vroeër vanjaar sien hul ondersteuners uit na nóg voortreflike rugby en goeie oorwinnings in die sewe wedstryde wat nou voorlê voordat die uitkloprondes op 13 September begin.
Die vyf stuks is Evergreens (26 punte), Heidelberg (25 punte), Progress en Bridgton (albei 23 punte), en Crusaders (20 punte) en hulle moet as die gunstelinge beskou word.
Maar rugby word met ’n ovaalbal gespeel en dié het ’n neiging om verkeerd te spring en die gang van ’n wedstryd totaal te verander.
Moet dus nie verbaas wees as die oorblywende drie - Barbarians (17), Blanco (12) en Groot-Brak (9) - vir ’n opskudding of twee sorg nie.
Die keur onder die Top 8-wedstryde sal ongetwyfeld die tweestryd tussen Progress en Crusaders in die Rosemoor-stadion wees.
Verwag liplekkerrugby tussen die twee bulspanne. Om ’n voorspelling hier te waag, kan jou met ’n rooi gesig laat.
Die kragmeting tussen Heidelberg en Barbarians is eweneens ’n grote en besoekende spanne aan Heidelberg weet reeds: ’n warm ontvangs is jou voorland.
Evergreens pak Groot-Brak op sy tuisveld en in Oudtshoorn ontmoet Bridgton en Blanco.
In die Uitdaagbeker pak Harlequins die All Blacks in Oudtshoorn, Riversdal-dorp en Seagulls bal vuiste in Riversdal, Eagle Stars en Riversdal Blues draf in Sedgefield uit terwyl George Silver Stars op Outeniquapark aandurf.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’