PLETTENBERGBAAI NUUS - Die Jaguars se o. 21-span het verlede Vrydag hul eweknieë van Evergreens met 17-10 in 'n spannende wedstryd geklop.
Hierdie vriendskaplike wedstryd het gedien as 'n voorwedstryd vir SWD teen OP, wat op Outeniquapark in George gespeel is.
Oorheersing in die vaste fasette
Die Jaguars het uit die staanspoor die wedstryd oorheers en 'n goeie basis vir hulle blitsige agterspelers geskep om te floreer. Hulle skrumskakel, Roshe Harris (Punte), was veral 'n handvol.
Hy het die verdediging na willekeur oopgevlek, wat tot 'n onverdoelde drie gelei het toe Dadrian Commins in die hoekie oorseil. Telling: 5-0.
Dadrian Commins seil oor die doellyn vir sy drie.
Na net sowat 12 minute van spel is 'n strafdrie aan die Jaguars toegeken, sowel as 'n geel kaart aan die tuisspan, wat die telling tot by 12-0 gebring het.
Hierdie puntevoordeel het die Jaguars in staat gestel om hul oorheersing voort te sit. Commins het weer eens agter die pale vir sy tweede drie gaan kuier.
Die doelskop was onsuksesvol en die telling was nou 17-0. Evergreens moes 'n haas uit die hoed pluk om die wedstryd vanaf 'n redelike groot agterstand te red.
Ondanks die steil bult wat hulle moes klim, het Evergreens stelselmatig hul ritme gevind en is hulle uiteindelik met 'n onverdoelde drie beloon, wat die telling op 17-5 laat staan het, wat dan ook die rustydtelling was.
Plaasvervangers ná rustyd
Na rustyd het die Jaguars se afrigter, Rassie Kasibe, heelwat plaasvervangers opgestuur om die tydings van die wedstryd te probeer draai.
Alhoewel die Jaguars geen punte in die tweede helfte kon byvoeg nie, het hulle egter hul verdediging goed georganiseer en die druk van Evergreens suksesvol afgeweer.
Die tuisspan is egter vir hul volgehoue druk beloon; hulle het hul tweede onverdoelde drie van die wedstryd gedruk, wat die telling op 17-10 te staan gebring het.
Jaquars se kaptein, Romano Christians, in volle vaart.
Rooi kaart
'n Rooi kaart vir die Jaguars vir ongeoorloofde spel laat in die tweede helfte was 'n antiklimaks in die wedstryd. Ondanks die verlies van 'n verdediger het die Jaguars se verdediging egter rotsvas gebly en kon hulle die wa deur die drif trek.
Jaguars se afrigter, Rassie Kasibe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’