PLETTENBERGBAAI NUUS - Jaguars-rugbyklub se A-span is Maandag 21 April in Kwanokuthula gekroon as kampioene van die Bitou Paasnaweek-rugbytoernooi nadat hulle in uitdagende weersomstandighede 'n harde stryd teen Plett United gewen het.
Die eindtelling van 12–10 reflekteer die noue aard van die wedstryd, wat weens die nat veld en swaar reën gekenmerk is deur talle hanteringsfoute.
"Die wen was nie mooi nie, maar ons vat hom. Jaguars se ondervinding, veral in hul verdediging, het uiteindelik die verskil gemaak in die slotfase van die wedstryd," het 'n verligte spanbestuurder, Rodney Juries, gesê na afloop van die wedstryd.
"Die jongelinge was ysters van begin tot einde en hul uithouvermoë en aanpasbaarheid maak my opgewonde oor wat voorlê," het Mark Phillip Roy Carelse, voorsitter van Jaguars, bygevoeg.
Phoenix klop Dolphins
In die uitspeelwedstryd om die derde plek het Formosa Phoenix hul bure, Dolphins, met 19-6 geklop.
Dit was 'n fisieke stryd waarin Phoenix se dissipline en strukture hul die oorhand gegee het.
Dank gaan aan die toeskouers wat ondanks die gure weer, die wedstryde ondersteun het.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’