PLETTENBERGBAAI NEWS - In 'n spanningsvolle SWD Superliga B-wedstryd die afgelope naweek in die Crags, het Jaguars 'n verwoede aanslag van All Blacks (Oudtshoorn) met 24 - 20 afgeweer.
Die oorwinning op Jaguars se tuisveld, Neverland, was van kritieke belang in die stryd om 'n uitspeelplek, met slegs een wedstryd wat vir Jaguars oorbly hierdie seisoen - teen die Maoris van George eerskomende Saterdag.
Die tuisspan het flink begin en die wedstryd se eerste punte op die telbord geplaas met twee strafskoppe deur heelagter Abrian Willemse (6 - 0).
Die All Blacks het eers laat in die eerste helfte punte aangeteken met 'n indrukwekkende 48 m-strafdoel, wat die telling na 6 - 3 gebring het.
Daarna het Jaguars se agsteman, Merno Miggels, die eerste drie vir die tuisspan gedruk ná sterk dryfwerk van die voorspelers. Willemse het daarna die doelskop oorgeskop (13 - 3).
Die besoekers het egter vinnig teruggeslaan en die rustydtelling was 20 - 18 in hul guns ná twee drieë en 'n strafdoel.
Jaguars se Roshe Harris het net voor halftyd met briljante individuele spel 'n drie vir die Jaguars behaal.
Die tuisspan het hul verdediging styfgetrek en in die tweede helfte geen punte afgestaan nie. Twee strafdoele deur Willemse het uiteindelik die 24 - 20 sege geseël.
Puntemakers vir Jaguars is Merno Miggels (een drie), Roshe Harris (een drie), en Abrian Willemse (een doelskop en vier strafskoppe).
Die Jaguars B-span het met 28 - 25 teen All Blacks vasgeval.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’