PLETTENBERGBAAI NUUS - Die verdedigende Eerste liga A-kampioene, Jaguars, het hul 2026-seisoen op indrukwekkende wyse met 'n sterk wegsege oor Prins Albert afgeskop.
Die span het die lang reis aangepak en met 'n oortuigende 44-29 oorwinning teruggekeer, wat hulle die maksimum vyf ligapunte besorg het. Die oorwinning stuur 'n duidelike boodskap dat Jaguars weer 'n span gaan wees om mee rekening te hou dié seisoen.
Voorspelersafrigter Ettiene Luiters het die span se vertoning geloof. "Dit was 'n taai, fisiese wedstryd, maar die spelers het hul taak goed uitgevoer. Ons het geweet die tuisspan speel 'n vinnige bal, daarom het ons 'n ligter agterlyn gekies, maar met krag en ervaring voorlangs. Dit het gewerk en ons het die oorhand in die vaste fasette gekry," het hy gesê.
Skrumskakel Roshe "Punte" Harris was weer in puik vorm, terwyl die veteraan-heelagter Abrian Willemse uitstaande was met die skopvoet en 19 punte aangeteken het.
Drieë is gedruk deur Harris, Jeremy Maas, Evander Camphor, Romano Christians en Ronaldinho Hunter, terwyl Willemse vyf doelskoppe en drie strafskoppe oorgesit het.
In die B-wedstryd het albei spanne gesukkel met hanteerfoute en die wedstryd het 7-7 geëindig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’