GEORGE NUUS - Mapstieks, julle klomp ramkatte. Vat vyf aan die SWD Arende wat hul ondersteuners die afgelope Saterdag met 'n groot Paasgeskenk bederf het deur die hoog aangeskrewe Boland Kavaliers hier met 33 - 24 te klop.
Om sout verder in die Bolanders se wonde te vryf, het die tuisspan vyf drieë teenoor die besoekers se drie drieë gedruk. Dit wil gedoen wees teen een van die spanne met die beste verdedigingstrukture in dié liga.
Maar nou ja, laat ons maar doodeerlik wees: vooraf het min mense gedink die Arende gaan dié kragmeting wen. Die Bolanders, wat hulle waarskynlik sal ontken, het na Outeniquapark opgeruk met die idee in hul agterkoppe om die Arende se vlerke te knip.
Toe nie. Die Arende begin nou stadigaan in 'n gedugte eenheid ontwikkel en dis grootliks te danke aan 'n afrigtingspan wat hul planne mooi in plek het en eintlik wondere verrig met die beskikbare talent. En net soos een speler nie 'n rugbyspan maak nie, is een afrigter nie die begin en einde nie.
Maar, met Heyneke Meyer aan boord kan jy aanvaar dat hy die gevaarlike rugbywaters met finesse en durf sal trotseer.
Dis alreeds duidelik: sy ervaring wys en die manier hoe die spelers op en van die veld vertoon wys dat daar wedersydse respek is en dat elkeen in die Arende-stal by sy planne ingekoop het.
Meyer het aan Hugo Redelinghuys van Group Editors gesê hy is ongelooflik dankbaar en trots op die spelers. "Ek weet min mense het ons vooraf 'n wenkans gegee, maar die manne het hulle nie deur die Boland laat oordonder nie, by die wedstrydplan gehou en die min kanse wat na hulle kant toe gekom het, aangegryp. Ek kon nie vir meer gevra het nie."
Hoewel die Arende die besoekers in die eerste twintig minute in hul eie gebied vasgepen het, reken Meyer dat hulle tog 'n paar kanse verspeel het om punte aan teken.
"Jy moet elke kans aangryp wat na jou kant toe kom, want in 'n taai gelykopstryd kan dit jou aan die hakskeen byt."
Net ná rustyd, met die telling gelykop op 7 - 7, het die Bolanders skielik die krane oopgedraai en ná sowat 20 minute se spel met 21 - 7 voorgeloop. "Ons was in groot moeilikheid, maar die manne het groot karakter gewys en ongelooflik teruggeveg. Dit het bewys ons kan enige span in die liga klop as ons vir 'n volle 80 minute sulke spel kan lewer."
Hoewel die Paasnaweek voorlê, gaan die Arende wel voort met oefeninge minus die druk van 'n wedstryd wat voorlê. Hy reken dit sal hul koppe 'n ruskans gee voordat die Arende die Valke oor twee weke aandurf.
"Ek besef ons is beslis nog nie waar ons wil wees nie, maar in dié stadium fokus ons net op elke wedstryd wat voorlê. Ons hou ons voete plat op die grond, bly nederig, maar gefokus op onsself."
Meyer het weereens sy dank uitgespreek teenoor die lojale toeskouers wat hulle kom ondersteun het.
"Dis fantasties as die mense hul Arende- klere dra en om die spelers saamdrom om hul handtekeninge te kry. Dit dien as ekstra motivering vir die spelers om hul beste te gee. Baie dankie daarvoor George."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’