SUID-KAAP NUUS - Die SWD Arende se ambisie om aanstaande jaar in die Curriebeker se Premierliga mee te ding is gisteraand in Bloemfontein deur die Vrystaat-Cheetahs verydel toe die tuisspan hulle oortuigend met 36-5 geklop het.
Met rustyd was die Vrystaat gemaklik met 19-0 voor en was die tekens duidelik dat die Arende nog nie vir die Premierliga gereed is nie.
Die Vrystaat het die Arende in alle fasette van die spel oorskadu en veral in die skrums lelik opgekeil.
Die Arende se dissipline het ook gelol en 'n strafdrie èn 'n geelkaart het sake vir die besoekers verder bemoeilik.
Die Vrystaters se oorheersing word bewys deur die ses drieë wat hulle gedruk het teenoor die Arende se enkele een.
Die uitslag het een ding gewys: die Arende is nog nie gereed vir die Premierliga nie. Dit sou broekskeur met hulle gegaan het.
Tog verdien hulle lof dat hulle enduit geveg het en nie sommer boedel oorgegee het aan 'n span wat swaar gelaai was met Pro14-spelers en twee Springbokke in sy midde nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'