SPORT NUUS - Terwyl die koronavirus voortrol, sal rolbalklubs landwyd gesluit bly. Dis die uitdruklike opdrag van Rolbal Suid-Afrika (RSA) nadat verskeie van sy lede, waaronder Eden-rolbal, vertoë gerig het dat klubs hul sport op kleiner skaal net op klubvlak kan beoefen.
RSA, wat ook sterk onder die juk van die regering gebuk gaan, sê rolbal, in enige vorm, is taboe tydens die grendeltyd.
Geen rolbal sal op klubvlak toegelaat word nie en nog minder mag individuele spelers op hul eie oefen.
Tys Pringle, mediawoordvoerder van die George-rolbalklub, se hulle het Eden-rolbalbestuur gevra om RSA te nader met 'n versoek om klubaktiwiteite op beperkte vlak toe te laat. Die motivering hiervoor is dat rolbal, net soos tennis en gholf, nie 'n kontaksport is nie. "Dit maak rolbal dus aantrekliker en minder riskant as die ander sogenaamde kontaksportsoorte."
Hy sê alle veiligheidsmaatreëls, soos die dra van maskers en die nakoming van veiligheidsafstande van 2m, kan maklik op 'n rolbalperk gehandhaaf word.
"Om getalle tot 50 spelers te beperk, is eweneens maklik haalbaar. Die meeste klubs is heeltemal by magte en goed toegerus om enige inperkingsmaatreëls toe te pas en te beheer."
Pringle sê die fisieke, geestelike en verstandelike oefening wat rolbal veral aan die meer senior deelnemers bied, is van die uiterste belang, selfs lewensbelang, vir die handhawing van 'n gesonde liggaam en geestelike ingesteldheid wat in hierdie dae van inperking en eensaamheid in menige geval sy tol eis.
"Die koronavirus-inperking is 'n traumatiese ervaring vir die meeste rolbalspelers wat daaraan gewoon was om vir twee, drie keer 'n week 'n paar balle te rol. Vir baie was dit hul enigste buitenshuise oefening en blootstelling en hulle sal nou hul geestesgesondheid móét verander.
"Indien skole en ander instansies oopgestel mag word, selfs met sekere beperkings en voorwaardes, dan ontstaan die vraag waarom kan sportsoorte soos rolbal, tennis en gholf, wat nie kontaksportsoorte is nie, ook oopgestel word nie. Daar is immers meer voor- as nadele daaraan verbonde."
Na verneem word het RSA wel vertoë aan die regering gerig, sê Pringle, maar hulle was nie optimisties dat daar aan hul versoeke voldoen sal word nie.
Rolbal bly nou een sportsoort wat jy nie in jou eie tuin of in die huis kan beoefen nie.
Greg Mennie
Dirk Breedt van die George-rolbalklub kan nie wag om weer op sy geliefde rolbalperk uit te draf nie.
Peta-Ann Bashford kan nie wag vir die Covid-19-pandemie om die wyk te neem sodat sy weer kan begin rolbal speel nie.
Pat Bailey
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'