VELDSKIET NUUS - Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) het Saterdag 25 Maart 'n veldskietkompetisie op Nooitgedag buite Oudtshoorn aangebied. Vyf-en-vyftig skuts het ingeskryf om mee te ding en streng veiligheidsmaatreëls is toegepas.
Die hardewerk het reeds die vorige dag begin toe ses skietbane opgestel is met teikens en gongs oor afstande wat gewissel het tussen 50 m en 300 m.
Ondanks die sterk wind en uitdagende skietposisies het skuts steeds beïndruk met goeie akkuraatheid. 'n Paar komiese oomblikke is op een van die bane gedeel waar die skuts uit 'n lêposisie moes skiet vanaf 'n platform wat nou eenmaal net nie wou saamwerk nie.
Ope wenners van die dag was, van links, Jacques du Plooy (3de), Martiens Bekker (2de) en André Barnard (1ste).
Uitslae
In die ope-afdeling was die wenners André Barnard, Martiens Bekker en Jacques du Plooy. In die veterane-afdeling was die topskuts Niël Basson, Piet van Wyk en Johan Fourie.
Die wenner in die vroue-afdeling was Zoey Botha. Die junior- en penkopwenners was onderskeidelik Erik Zeelie, Kayla Langenhoven, Megan Terblanche, Darian du Plooy en Juhan Verwey.
SJB bedank vir Koos en Reenen Potgieter vir die geleentheid om die kompetisie op hulle plaas te kon aanbied. Bedankings gaan ook uit vir geskenkbewyse wat verskaf is deur David Malan, Henry van der Westhuizen, Hein Botha, Joe Verwey en Diffie de Villiers.
Besoek gerus die SJB Facebook-blad vir verdere inligting oor die dag of kontak die kantoor by 044 695 2319 vir enige navrae.
Die SSK veldskiet vind op 22 April naby Heidelberg plaas, kontak die SJB-kantoor vir navrae in verband met hierdie skietdag.
Die veteranewenners van die dag was, van links, Johan Fourie (3de), Piet van Wyk (2de) en Neil Basson (1ste).
Die junior wenners van die dag was, van links, Megan Terblanche (3de), Kayla Langenhoven (2de) en Erik Zeelie (1ste).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’