SUID-KAAP NUUS - Twee SA rekord en agt byeenkomsrekords is verlede Saterdag op Oudtshoorn by die 27ste DCAS/Highgate/Groter Oudtshoorn interprovinsiale tweekampbyeenkoms verbeter.
Altesame 512 atlete van sewe provinsies, WP, Boland, SWD. Oostelike Provinsie, Griekwaland-Wes, Grens en die Vrystaat het deelgeneem.
Die spankompetisie is weer deur WP gewen met Boland tweede en SWD derde. Die SWD het 12 medaljes verower en twee van sy atlete het uitgemunt; Gustav Schlechter (57:03) het in die swem onder 'n minuut gaan draai terwyl Ruben Gouws (seuns o.9) as die junior victor ludorum aangewys is.
Die SWD se medaljewenners was:
- Karli Lotter (D o.9 silwer);
- Ruben Gouws (S o.9 goud);
- Matthew van Coller (S o.13 goud);
- Gustav Schlechter (S o.17 goud);
- Lara Schlechter (D o.19 brons);
- André Kleynhans (S o.19 silwer);
- Chris van Wyk (veterane mans goud);
- Marius Schlechter (senior veterane mans silwer);
- Edie Lutsch (meesters dames silwer);
- Johan Windt (meesters mans silwer);
- Minke J van Rensburg (gestremd goud);
- Marlé van Wyk (gestremd goud).
Die pas-uitgetrede voorsitter van SWD-tweekamp, Dave van der Walt, is deur die suidelike provinsies vereer vir dit wat hy vir tweekamp in Suid-Afrika - en meer spesifiek vir tweekamp en sport in die algemeen in SWD - gedoen het.
Stephnie McKay het hom as voorsitter opgevolg.
Johan Keller van Highgate het aangekondig dat 'n lokaal op Highgate ingerig gaan word waar al die trofeë van hierdie byeenkoms en van SA tweekamp uitgestal gaan word.
Dave van der Walt het ook genoem dat dié jaarlikse byeenkoms 'n ekonomiese inspuiting vir Oudtshoorn van ongeveer R3,4 miljoen beteken. Hy het die borge en donateurs uitgesonder vir hul bydrae: Highgate-volstruisvertoonplaas, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, Groter Oudtshoorn-munisipaliteit, Sportsman Warehouse, KKI, Oudtshoorn Ford, Kango-grotte, Pioneer Foods, SASKO , die gedrukte media en EDENfm.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'