KNYSNA NUUS - Gedurende die naweek van 17 en 18 Mei het die Suid-Afrikaanse Jaggeweerskiet-vereniging se nasionale byeenkoms plaasgevind te Joubertina in die Oos-Kaap.
Skuts woon die elite-byeenkoms slegs op uitnodiging by, gebasseer op prestasies behaal by die verskillende provinsiale toernooie wat landwyd plaasgevind het gedurende 2018.
Die uitnodigings word slegs gerig aan skuts wat die eerste 50 posisies in die ope klas beklee op 'n nasionale ranglys wat meer as 500 skuts reflekteer.
Vir dames en juniors word die uitnodigings gebasseer op die eerste 20 skuts in die onderskeie klasse. Die strawwe kompetisie word beslis oor twee dae en word op drie bane gehou.
Elke baan het ses skietpunte waar 'n jagsituasie gesimuleer word en vyf skote op 'n teiken geskiet moet word binne die toegelate tyd. Dit beteken daar word van elke skut verwag om konsentrasie te behou vir elk van die 90 skote wat die skut sal skiet gedurende die tweedag-kompetisie.
Verder word daar van skuts verwag om sonder elektroniese toerusting die afstande en winsdspoed te skat. Al hierdie uitdagings in ag geneem, is dit met trots dat Eden-jaggeweerskietvereniging kan rapporteer dat daar nege Eden-skuts in nasionale spanne opgeneem is.
Hierdie spanne word deur slegs ses skuts plus 'n reserwe verteenwoordig. Jacques du Plooy eindig algeheel 4de en word opgeneem in die senior Protea-span. Christo Delport eindig 11de en word opgeneem in die SA Shooting Sport Confederation se presidentspan. In die dames-afdeling eindig Junita van Zyl 2de, Anita Butler 3de, Marietha Moolman 7de-reserwe en al drie lede word tot die dames se Protea-span verkies.
In die junior afdeling eindig Manus Moolman 1ste, Leras van Zyl 3de , Anlo Ferreira 5de en Hans-Willem Moolman 6de en die jongmanne word opgeneem in die junior Protea-span.
Hierdie nege lede van Eden-jaggeweerskietvereniging sal later vanjaar aan 'n internasionale byeenkoms in Namibië gaan deelneem – voorwaar 'n merkwaardige prestasie vir 'n klein distrik soos Eden.
Daar is verder van elke provinsie verwag om 'n span bestaande uit vier mans, dames en juniors in te skryf vir Saterdag se been van die kompetisie. Elkeen van die skuts se punte is dan bymekaar getel om 'n spantotaal te vorm.
Ook hier het Eden fenomenaal presteer deurdat die mans, dames en junior spanne onderskeidelik in die eerste plekke geëindig het en sodoende met die louere weggestap het.
Eden-lede in die Protea-juniorspan: Hans-Willem Moolman (1ste), Anlo Ferreira (2de), Leras van Zyl (4de), en Manus Moolman (6de).
Eden-lede in die Protea-damespan: Anita Butler (4de) en Junita van Zyl (5de). Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Knysna, Tuinroete nuus'