SPORT NUUS - Die eerste Multisure High Schools Cup is in 2019 aangebied toe twee toernooie, een in Uitenhage en een in George, gehou is. Vier seunsrugbyspanne het toe in elke toernooi gespeel.
Die toernooie is gefokus op hoërskole wat nie altyd die nodige geleenthede kry om in privaat georganiseerde toernooie mee te ding nie.
Covid-19 het die afgelope tyd die toernooie gekelder, en nou moet matrikulante begin fokus op eindeksamens. Daarom het Multisure, met sy hoofkantoor in Gqeberha, besluit om slegs een toernooi vir 2022 in George aan te bied.
Agt seuns- en vier dogterrugbyspanne het deelgeneem. Skole buite George het ook vir die eerste keer die afgelope naweek aan die toernooi in Parkdene deelgeneem. Netbal is hierdie keer bygevoeg as 'n nuwe sportkode met vier spanne wat deelgeneem het.
Alle wedstryde is in 'n goeie gees gespeel en almal was dit eens dat die jongelinge hulle geniet het, nuwe vriende ryker is en daarna uitsien om weer deel te wees van die toernooi in 2023.
Toekomsplanne sluit in die byvoeg van nog sportkodes om sodoende ons jeug meer geleenthede te gee om deel te neem aan sport en hul talente ten toon te stel.
Denton Goodford van Multisure saam Hoërskool George se seunsrugbyspan.
Tellings in die finale:
- Netbal: Groot-Brak klop Parkdene 18 - 15
- Dogtersrugby: George Hoër klop Parkdene 15 - 10
- Seunsrugby: George Hoër klop Plettenbergbaai 26 - 9
Hoërskool Groot-Brak se netbalspan saam met Denton Goodford van Multisure.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'