TUINROETE NUUS - As jy Saterdag langs die teerpad tussen Heidelberg en Witsand gestaan het, sou jy dit beleef het: die Vlakte-marathon het nie net sy grootste deelnemergetalle nóg gelok nie, maar dit het hom terselfdertyd ook gevestig as een van die gewildste én grootste gemeenskapsmarathons in die land.
Die Vlakte is tans waarskynlik die mees sielsvervullende sportgebeurtenisse in die Hessequa-streek.
Van die voorste atlete tot die vasbyt-agterosse, elke tree het die hartklop van ’n gemeenskap gedra wat nie net ’n wedloop aanbied nie, maar ’n ervaring skep.
Die 23ste aanbieding van die immergewilde Vlakte-marathon het ’n rekordtal van 2 550 atlete gelok – ’n mylpaal wat dié wedloop nou amptelik onder die land se grootste gemeenskapsmarathons plaas.
Talle eerste-keer-deelnemers van dwarsoor Suid-Afrika kon nie uitgepraat raak oor die pragtige roete en die panoramiese see-uitsigte by die eindpunt nie. Min marathons bederf jou sintuie met só ’n toneel by die einde.
Met die Twee Oseane-marathon in Kaapstad wat deur fel wind ontwrig is, het baie besoekende hardlopers Witsand toe gespoed vir ’n kans om hul Comrades-kwalifiserende tye te verbeter.
“Die een se dood is ’n ander se brood,” is hoe ’n Gautengse deelnemer dit tong-in-kies opgesom het.
Selfs die berugte Witsand-wind, wat soms stormsterkte bereik, het dié keer skaflik bly lê. Die ideale weer het gelei tot uitstekende tye in talle kategorieë.
Die deelname was indrukwekkend versprei: 1 000 atlete in die 42,2 km, 700 in die 21,1 km, 600 in die 10,4 km en 250 in die 5 km-pretdraf.
Maar jy moes op die roete gewees het om die atmosfeer te vóél - die bruisende kameraadskap, die lag, die pyn en die onmiskenbare siel van ’n wedloop wat nie net gehardloop word nie, maar beleef word.
Honderde, selfs duisende plaaslike en besoekende atlete, het die volle palet ervaar: die vreugde, die vasbyt en die rou drama van ’n wedloop wat jou heeltemal kan leegtap, maar terselfdertyd ook laat oorloop van emosie met die besef: ek het dit gemaak.
Dis veral opsigtelik in daai laaste skof, wanneer die agterosse teen die mure van pyn vasloop en die toeskouers hulle met groot entoesiasme aanmoedig, waar moeë bene ekstra energie kry en tou opgooi nie meer ’n opsie is nie. Maar die eindpunt met sy asemrowende see-uitsig het nuwe krag gegee en selfs die grootste sukkelaars oor die eindstreep gedra.
Gemeenskap maak die Vlakte ’n juweel
“Die entoesiastiese ondersteuning en lojaliteit van ons helpers en vrywilligers is die hartklop van hierdie wedloop,” het Nico Steyn, hooforganiseerder en voorsitter van die Langeberg-atletiekklub, ná afloop van die Vlakte gesê.
“Ons is ongelooflik dankbaar vir die gemeenskappe van Heidelberg en Witsand - vir hul betrokkenheid, hul vriendelikheid en hul bereidwilligheid om elke jaar die atlete te dra. Die mense van hierdie streek het ’n unieke trots en karakter wat die Vlakte-marathon só besonders maak.”
Waterpunte is beman deur plaaslike besighede en inwoners, terwyl verkeersbeamptes, noodhulp, die plaaslike polisie en die NSRI die dag foutloos en professioneel laat verloop het.
Vanjaar se Vlakte-marathon het weereens bewys dat die Hessequa-streek nie net ’n sportbestemming is nie - dis ’n plek waar gemeenskappe saam groot dinge doen, en waar ’n wedloop veel meer word as ’n padwedloop. Dit word ’n viering van mense, durf en die oop vlaktes wat hulle tuis noem.
Die finale uitslae is:
10 km ope mans
- 1. Winmark Daniels (00:32:57)
- 2. Ashley Davids (00:35:42)
- 3. CG Volkskenk (00:36:08)
10 km ope vroue
- 1. Mia Odendaal (00:47:48)
- 2. Jodi Warnich (48:16)
- 3. Teniké Blunden (00:48:4)
21,1 km ope mans
- 1. Bruce Maboza (Nedbank) 01:10:28)
- 2. Leon Adams (01:14:51)
- 3. Nicolaas de Jager (Worcester) 01:15:30)
21.1 km ope vroue
- 1. Nikki Walters (Knysna AC) (01:27:03)
- 2. Melissa van Rensburg (Nedbank) 01:33:49)
- 3. Sharon Nel (Westcoast AC) 01:33:52)
42,2 km ope mans
- 1. Selwyn Matthews (Nedbank) 02:25:23
- 2. Willard Jussa (Outeniqua Harriers) 02:28:16
- 3. Gareth Ford (Nedbank) 02:28:31
42,2 km ope vroue
- 1. Deanne Laubscher (Nedbank) 02:46:52
- 2. Carla Spangenberg (Nedbank) 02:59:47
- 3. Jenna Cackett (Nedbank) 03:02:10
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’