SPORT NUUS - Die bekende sportjoernalis, Wyndham "Mister Media" Ewerts van Oudtshoorn Courant, 'n susterpublikasie van George Herald, is op 28 Julie in George as Eden-sportraad se joernalis van die jaar aangewys. Oudtshoorn Courant is een van Group Editors se ses koerante in die Wes- en Oos-Kaap.
Ewerts is reeds jare lank 'n bekende in sportkringe en het in 2019 dieselfde gesogte toekenning ingepalm vir sy uitstekende sportverslaggewing.
Hy sê vanjaar se toekenning is soveel meer spesiaal omdat dit vir hom 'n uitsonderlike besige jaar was.
Gedurende die beoordelingstydperk van die toekennings was hy nie net verantwoordelik vir sportdekking in Oudtshoorn nie, maar ook waarnemende redakteur van beide Oudtshoorn Courant en Graaff-Reinet Advertiser.
Die Eden-sportraad se toekennings vereer jaarliks uitsonderlike prestasies in 'n wye reeks kategorieë. Sportlui, afrigters, bestuurs- en administratiewe beamptes, sportspanne, sportorganisasies, joernaliste en fotograwe word erken vir hul werk deur die jaar.
Ewerts sê die toekenning is baie spesiaal en dat hy geëerd voel dat die raad sy werk waardeer. "Dit is nie altyd maklik om oor sport te skryf nie. Jy moet soms in die skroeiende son of vriesende winter op die veld staan. Ek sal hierdie toekenning nooit vergeet nie."
Maar hoe het Ewerts so betrokke geraak by sport, en waar kom sy liefde vir sport vandaan? "My liefde vir sport kom al vandat ek verstand het," sê hy. Hy vertel dat hy al sedert laerskool en regdeur hoërskool 'n "vreeslike energieke siel" was en dat die sportveld een van die plekke was, ook na skool, waar hy kon ontslae raak van al hierdie energie.
Lief vir lees en skryf
Selfs die joernalistieke gogga het hom vroeg gebyt. Ewerts was van kleins af lief vir lees en skryf. Hy het liedjies en gedigte geskryf, en wat sport betref was en is hy lief daarvoor om na statistieke te kyk en meer te leer van die tegnologie wat in sport gebruik word.
"Ek is geïinteresseerd in al die aspekte van verskeie sportsoorte, en ek volg die sportwêreld graag. Ek is gek daarna as een van my spanne speel!"
Wyndham skryf egter nie net oor sport nie. Hy sien homself as 'n doodgewone, algemene, all-round-joernalis met 'n aanvoeling vir politieke stories en 'n ou wat net hou van sport. "Dit is wat een van my mentors, Schalk le Roux my geleer het. Mens moet goed wees in alles, jy moet 'n volledige koerantman wees wat goed is met harde nuus, politiek, menslike stories asook sport en jy moet strewe daarna om uitstekend in alles te wees," vertel hy.
Ewerts se loopbaan het by Die Hoorn begin waar hy ook, volgens hom, alles gedoen het - selfs bemarking – 'n element wat hy die hart van 'n koerant se bestaan noem. In 2018 het hy na Oudtshoorn Courant oorbeweeg en vandaar het hy meer begin fokus op sport, al het hy steeds ander artikels aangepak.
In sy privaat lewe, indien 'n joernalis so iets het, lag hy, is Ewerts 'n gemeenskapswerker met sy eie organisasie, Sport Buddy.
Hier deel hulle onder meer kos, geskenke, klere en komberse uit waar moontlik, skakel met die breër gemeenskap en raak betrokke by sport in die gemeenskap. Ons eie Mister Media is ook 'n groot aanhanger van hip-hop, rymklets en soortgelyke dansstyle.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’